fbpx

Regverdige regsproses oor grond na hofoorwinning vir hoof-tradisionele leier moontlik

’n Regverdige regsproses is nou moontlik vir Inkosi (hoof-tradisionele leier) Goodman Matomane nadat die Hooggeregshof in Durban vroeër die week beveel het dat ’n aansoek van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling van die rol verwyder moet word en dat die departement die koste van die verwydering moet dra. AfriForum het Inkosi Matomane met regshulp ondersteun nadat die departement die hofaansoek teen Inkosi Matomane gebring het sonder om hofdokumente behoorlik op hom te beteken.

Dié hofsaak hou verband met Inkosi Matomane se benutting van en verblyf op die plaas Melville Park naby Underberg in KwaZulu-Natal, wat aan die departement behoort. Die departement het vroeër ’n opsienerskap vir dié plaas saam met die plaas Beersheba aan Vuyani Zigana goedgekeur, nadat die familieboernetwerk, Saai, druk op die departement uitgeoefen het nadat die departement aan Zigana die versekering gegee het dat hulle ’n langtermynhuurkontrak vir ’n geskikte plaas met hom sou sluit en dit nie gebeur het nie. Met Zigana se aankoms op die plaas Melville Park het hy egter vir Inkosi Matomane daar aangetref, wat die grond sedert Junie 2012 bewoon en benut ná ingryping deur die destydse minister van Landelike Ontwikkeling, Gugile Nkwinti.

AfriForum en Saai het in Julie 2022 ’n prokureursbrief aan minister Thoko Didiza van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling gerig om navraag te doen oor die toekenning van opsiener- en langtermynhuurkontrakte aan suksesvolle opkomende boere nadat boere uit verskeie provinsies (wat Zigana en Inkosi Matomane insluit) probleme met kontrakte onder die aandag van die organisasies gebring het. In die brief word die uitdagings van John Mabasa van die plaas Goedehoop naby Amersfoort in Mpumalanga en Johannes Bezuidenhout van Nuveld Farming Empowerment Enterprise in die omgewing van Beaufort-Wes, Wes-Kaap, as voorbeelde genoem.

Die organisasies het ’n dringende beroep op die minister gedoen om in te gryp om sekerheid oor die benutting van staatsgrond deur suksesvolle opkomende boere te verseker aangesien die omstandighede, waar opkomende boere in drie verskillende provinsies soortgelyke uitdagings met die departement ervaar, twyfel skep oor die vermoë van die departement om behoorlik en regverdig te funksioneer. Daar is steeds geen antwoord van die minister ontvang nie.

“Wanneer ’n boer mense van ’n plaas moet verwyder, word daar groot gewag daarvan gemaak as die korrekte proses nie pynlik gevolg word nie. In dié geval het die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling hoegenaamd nie die regte prosesse gevolg of behoorlik op regsdokumente gereageer nie. Dit wil voorkom asof daar totale chaos in die departement heers en dat die departement nie die vermoë het om die grond wat hul besit te bestuur nie. Hoe kan daar enigsins sprake van onteiening sonder vergoeding deur die staat wees as die huidige staatseiendomme nie behoorlik tot voordeel van suksesvolle opkomende boere bestuur kan word nie?” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

“Suid-Afrika as sentralistiese bestel is op vele terreine ’n mislukking – hierdie gebrekkige regsoptrede en bestuur deur die departement is maar net nog ’n voorbeeld daarvan. Die enigste oplossing lê in gemeenskapsfederalisme. Daarom is ons besig om ’n netwerk van kultuurgemeenskappe te bou wat in wedersydse erkenning en respek met mekaar saamwerk om vir ons gemeenskappe se kinders ’n mooi toekoms moontlik te maak. Dit is vir ons ’n voorreg om met ’n hoof-tradisionele leier van die AmaMpondomise kultuurgemeenskap saam te werk om geregtigheid en regverdigheid te bevorder,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.