fbpx

Pampoenboere alumni steun klagtes teen verval

Op 21 Julie 2022 het Saai, ’n netwerk vir familieboere, klagtes ingedien by die Potchefstroom polisiestasie teen die Noordwes Departement van Landbou, die Departement van Openbare Werke en die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronowerheid.

Die klagtes ingevolge artikel 51(1)(a) en artikel 27(18) van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne volg ná die skokkende onthullings oor die toestand van die nasionale monumente by die Potchefstroom Landboukollege.

“Die voortdurende verval van fasiliteite, geboue en administrasie is al vir meer as ’n dekade ’n probleem. Dit is ’n simptoom van die wanbestuur wat heers by die Potchefstroom Landboukollege en dus doen Saai ’n beroep op die Noordwes Departement van Landbou om die bestuur van die kollege in bekwame hande te plaas,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Saai het ook die stigting van die Potchefstroom Landboukollege Alumni-vereniging aangekondig. Hierdie vrywillige vereniging bestaan uit oudstudente van die kollege wat besorg is oor die toestand van die kollege se opleiding en infrastruktuur. “Die instansie was eens ’n baken van uitnemendheid in die landbougemeenskap en ons as alumni wil dit graag herstel tot die trotse instansie wat dit was en weer kan wees,” sê Boy Saaiman, stigter van die Potchefstroom Landboukollege Alumni-vereniging.

Die strafregtelike klagtes is slegs een van vele stappe wat geneem word om die bestuur aanspreeklik te hou en noemenswaardige verandering by die kollege teweeg te bring.

Oudstudente van die kollege kan by die alumni-vereniging aansluit deur die volgende webblad te besoek: www.pampoenboere.org

Foto: Annelise Lange