fbpx

Organisasies bied alternatief tot landbouplan

Ten spyte van groot opgewondenheid onder staatsamptenare, landboubesighede, vakbonde en die ANC oor die landboumeesterplan, kry dit die wind van voor onder boere en organisasies wat hulle op grondvlak verteenwoordig. Geen poging om die debat te demp of te ignoreer kry die stemme wat teen die meesterplan beswaar maak, stil nie.

Organisasies met derduisende lede soos TLU SA, Saai, WRSA en NEASA, asook verskeie akademici, wetenskaplikes, opposisiepartye, ekonome, plaaslike en distrikslandbou-unies en individuele boere wat die plan verwerp het, werk nou saam om ’n meer inklusiewe, markvriendelike en staatsbestande alternatiewe meesterplan te ontwikkel.

Die hoofbesware teen die meesterplan is dat dit mank loop aan inklusiwiteit, die ANC se ernstig gediskrediteerde transformasiemodel as fondasie gebruik, en amper nêrens na boere verwys nie. Dit is ’n landbouplan sonder boere.

Geeneen van die ondertekenaars kon tot dusver verduidelik waarom vakbonde en NRO’s se insette in die meesterplan gevra is terwyl geen bydrae van die grootste boerestrukture, werkgewersorganisasies, bedryfsorganisasies en ekonome bekom is nie.

Theo de Jager, voorsitter van Saai, sê die meesterplan skep die indruk dat die ANC dit as ’n transformasiestrategie opgestel het en later welwillende organisasies in die landbou gaan soek het om daaraan legitimiteit te gee.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê ten spyte van die goeie ekonomiese beginsels wat daarin vervat is, is die plan gekontamineer met uitgediende ideologiese beginsels wat wêreldwyd nog net armoede en hartseer veroorsaak het. TLU SA is aanvanklik by besprekings van die meesterplan betrek, maar is weggelaat nadat die organisasie duidelikheid gevra het oor die definisie van “transformasie”.

Anders as die staat se meesterplan sal die alternatief oop wees vir deelname, ook van individuele boere en ander vennote in die waardeketting. Dit sal uiteindelik aan die ondertekenaars van die staat se meesterplan voorgelê word om te bepaal presies wat hulle probleem met ʼn meer inklusiewe en markvriendelike alternatief is.

Boere kan hulle kommentaar hier byvoeg.