fbpx

Nuwe vennootskap ondersoek boerelikwidasies

Om die Landbank, landboubesighede en handelsbanke se grootskaalse likwidasie van boere te stuit, het Saai ’n vennootskapsooreenkoms met AfriForum, adv. Gerrie Nel se privaatvervolgingseenheid, en die forensiese ondersoekers André Pretorius en Dekker Naudé van Farm Rescue gesluit. Hulle sal spesifieke gevalle van beweerde misdrywe en misbruik van likwidasieprosesse ondersoek en aan die kaak te stel.

Dit volg nadat Saai verlede week tydens sy verteenwoordigersdag ’n spesiale ondersoekfonds gestig het waartoe verskeie besighede en boere reeds ruimskoots bygedra het.

Honderde boere oor die hele Suid-Afrika is die afgelope paar maande onder verdagte omstandighede gelikwideer vir skuld wat net ’n fraksie van die waarde van hulle plase, oeste, losgoed en boedel beloop. Soortgelyke stories word oral vertel van hoe skokkend veral die Landbank se agente op plase optree, hoe boedels en die lewensbestaan van honderde families op plase geplunder en verwoes word, en hoe onreëlmatig die regsproses is wat gevolg word. Dit noop ’n onafhanklike ondersoek.

Die vennootskap beoog om ’n omvattende verslag oor die misbruik van likwidasieprosesse saam te stel. Daaruit sal strafregtelike klagtes en dissiplinêre aksies deur professionele liggame soos die Regspraktisynsraad voortspruit.

Saai beveel aan dat finansiëledienste-instellings en banke hulle skakel oor boere en families wat moontlik slagoffers van die misbruik van likwidasieprosedures was sodat Saai die skade en risiko’s kan help bestuur. Saai samel ook inligting in oor boere en families wat in die proses alles verloor het of die gevaar loop om gelikwideer te word.

Die Landbank het nog nie gereageer op Saai se uitnodiging om met die ondersoekspan saam te werk nie. Volgens die voorsitter van die Landbank se direksie, Thabi Nkosi, het die bank self ondersoek ingestel en geen ongerymdhede gevind nie.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê hulle het die mees gedugte span ondersoekers bymekaar gekry wat in die land beskikbaar is. Die span het reeds onreëlmatighede geïdentifiseer wat ondersoek sal word met die oog op moontlike vervolging.

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, nooi boere om alle inligting wat moontlik in die ondersoek van nut kan wees na https://skakel.saai.org/landbank-storie te stuur.

Hy nooi ook boere, vriende van boere en besighede om by https://saai.org/donasies/ ’n bydrae tot die Saai Ondersoekfonds te maak.