fbpx

Nuutste swart ekonomiese bemagtigingsvoorwaardes gaan familieboerderye knou

Die Departement van Landbou het onlangs die nuutste vereistes van die Raad van Toesig op die Uitvoer van Bederfbare Produkte (PPECB) aangekondig. Die vereistes eis onder meer dat uitvoerboere hul swart ekonomiese bemagtigingsertifikate moet toon saam met hul aansoeke vir uitvoerpermitte.

Volgens dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, openbaar die nuutste vereistes van die PPECB en Departement van Landbou ’n fundamenteel gebroke ideologiese en rassistiese uitgangspunt waarbinne Suid-Afrikaanse landbou in ’n kleinerwordende wêreld moet oorleef en presteer.

“Dit is onduidelik hoe die Departement van Landbou verwag dat familieboere aan swart ekonomiese bemagtigingsvoorwaardes moet voldoen, veral wanneer dit by kwessies soos mede-eienaarskap en mede-bestuur kom.  Dit is dikwels ʼn uitdaging vir ’n familie om saam te boer, wat nog te sê ’n vreemdeling uit ʼn ander gemeenskap wat op ʼn familieboer afgedwing word,” sê De Jager.

Saai, die Suid-Afrikaanse netwerk vir familieboere, glo dat drakoniese maatreëls soos vervat in die swart ekomoniese bemagtingsvereistes nie voldoen aan die raamwerke wat internasionaal aanvaarbare praktyke definieer binne die Verenigde Nasies en sy agentskappe nie en het daarom in gesprek getree met die Wêreld Handelsorganisasie om die rassistiese onderbou van gedwonge swart ekonomiese bemagtigingsmaatreëls onder hulle aandag te bring.

Swart ekonomiese bemagtiging het vir die meeste boere sinoniem geword met korrupsie, magsugtigheid, staatskaping en ekonomiese bevoordeling van ’n klein elite. “Baie boere glo dat dit swart ekonomiese bemagtigingsmaatreëls is wat daartoe gelei het dat ANC kaders hulle in sentrale besluitnemende en winsnemende posisies ingeskuif het in staatsdepartemente en staatsondernemings soos ESKOM die Suid-Afrikaanse Uitsaai Korporasie, Denel en Landbank en uiteindelik tot die inploffing van hierdie eens vooruitstrewende instellings gelei het,” meen De Jager.

Dat swart ekonomiese bemagtiging in die landbousektor onder familieboerderye, wat die ruggraat van die sektor vorm, gediskrediteer geraak het is duidelik uit die swak penetrasie van beide die idee en die praktyk in die sektor. Nie net het die ANC-regering luisterryk daarin misluk om ʼn klas van vooruitstrewende swart boere te vestig nie maar hulle het ʼn totale mislukking van grondhervorming gemaak en daar is bloedweinig van die plase wat onder dieselfde ideologiese raamwerk as swart ekonomiese  bemagtiging oorgedra is wat vandag selfonderhoudend of selfs net winsgewend is.

“Suid-Afrika beleef ’n ekonomiese krisis waarin ons dit allermins kan bekostig om beleggers af te skrik en daar is niks aantrekliks aan gedwonge vennootskap, eienaarskap of saamwerk in die konteks van die swart ekonomiese bemagtigingsmaatreëls vir landbou nie,” meen De Jager. “Boonop het die departement 10 jaar gelede reeds onderneem om duidelikheid te gee oor hoe swart ekonomiese bemagtiging geïmplementeer moet word op plase wat onder grondeise in die staatskoerant geregistreer is. Boere het reeds meer as ’n dekade gelede gevra hoe beleggers gelok moet word na ’n plaas waarvan die eienaars en gebruikers nie seker is of hulle oor ’n jaar of twee nog op daardie plase sal wees nie.”

Daar is grondeise wat reeds in 2002 in die Staatskoerant geregistreer is en 19 jaar later is daar nog geen vordering met die grondeise gemaak nie. Derduisende plase is geregistreer onder vals of ongeldige eise maar lê in die vrieskas van onsekerheid vasgevang. In Saai se interaksie en gesprekke met buitelandse regerings, ambassades en landbou unies elders in die wêreld is almal dit eens dat swart ekonomiese bemagtiging geen sin maak op ’n familieplaas nie en daarom kan Saai nie soos ander landbou unies sy lede aanraai om konstruktief in die PPECB se prosesse deel te neem nie, maar vra eerder ondersteuning om die saak in die howe en internasionale, multi-laterale platforms oor handel en nywerheid te gaan toets.