fbpx

Nathan Naudé het Suid-Afrika se beste lamsvleis

Die familieboerorganisasie Saai en Buffelsfontein Brandewyn het op 2 April 2022 Lamb Champs by Harlequins Rugbyklub in Pretoria aangebied in die soeke na die lekkerste lamsvleis in Suid-Afrika.

Tydens Lamb Champs is 50 familieboere van reg oor Suid-Afrika se lammers op die spit gebraai en elke lam is individueel deur 10 kos- en vleiskenners beoordeel om te bepaal wie die wenner is. Die ongeveer 2 000 gaste kon gedurende die dag enige van die 50 spitte proe terwyl Ichnus Wait, Juan Boucher en Adam Tas die gehoor vermaak het.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, het die spog-trofee ter waarde van R80 000 gegiet deur die beeldhouer Nic van Rensburg aan Nathan Naudé van Nitique Boerdery oorhandig. Naudé boer met Merino-skape in Kriegerspoort in die Noord-Kaap en het ook wengeld van R50 000 ingepalm.

Die tweede plek is opgeraap deur Gawie van Heerden van Consortium Merino uit Dombietersfontein in die Noord-Kaap en die derde plek deur Hennie Jonker van Kroonstad in die Vrystaat.

“Ons as Nitique Boerdery en Karoo Treasures wil baie dankie sê vir ’n wonderlike dag. Dit was vir ons ’n groot belewenis en ’n lekker ervaring. Dit gaan baie vir ons bemarking beteken en dit het vir ons ’n wyer netwerk geskep,” sê Naudé.

Saai het die afgelope drie maande nege boere en deelnemers van die funksie in al nege provinsies saam met Meyer le Roux van die Buffelsfontein-groep besoek. Dié besoeke is opgeneem in ’n Lamb Champs-sosialemediareeks wat op Facebook en YouTube beskikbaar is.

“Die doel van hierdie epiese tog deur die hartkamers van ons pragtige land was drieledig. Eerstens wou ons vasstel hoe skaapboere hul eie lammers op hul eie akker op hul eie manier grootmaak, vetmaak, afrond en gaarmaak. Tweedens wou ons weet hoe boerederypraktyke van boer tot boer verskil, en laastens wou ons tydens ’n gala-braai in die hoofstad bepaal wie die beste lamsvleis in die Republiek produseer,” sê Le Roux, wat ook die aanbieder van die program was.

“Wat hierdie geleentheid so spesiaal gemaak het, is dat ons verbruikers kon voorstel aan die boer agter die winkelrak. Die boere het werklik baie moeite gedoen en lammers is uit alle oorde ingeskryf, onder andere van Carnarvon, Rietbron, Steynsrus, die Moordenaarskaroo, Utrecht en Groblersdal,” sê Rossouw.

Saai wil graag elke boer wat ingeskryf het en die volgende borge hartlik bedank: Santam, AgriOnline, Case, Bosveld Charcoal, Chad-O-Chef, Andre Kock & Seun, Kalahari cuts, Vellie Boutique, Obaro, FNB, Agility, Farm to Table Meats en Halewood. Die projek was ’n reusesukses en volgende jaar se reëlings word reeds getref.