fbpx

’n Nuwe seisoen van Lamb Champs skop af

Die familieboernetwerk Saai en Buffelsfontein Brandewyn het op 13 September Lamb Champs seisoen 2 by Buffelsfontein Beesboerdery in Pretoria geloods. Lamb Champs is die amptelike soeke na die lekkerste lamsvleis in Suid-Afrika.

Die geleentheid is bygewoon deur voornemende borge, familieboere, vriende van familieboere en 2022 se topdrie. Die wenner was Nathan Naudé van Nitique Boerdery, Kriegerspoort in die Noord-Kaap, in die tweede plek was Gawie van Heerden van Consortium Merino, Dombietersfontein in die Noord-Kaap, en Hennie Jonker van Kroonstad in die Vrystaat het derde gekom.

Tydens die funksie het seremoniemeester Minki van der Westhuizen aangekondig dat die eerste episode van die nuwe reeks op 27 Mei 2023 uitgesaai sal word. In hierdie reeks besoek Meyer le Roux van die Buffelsfontein-groep nege boere wat aan die kompetisie deelneem, een in elk van die nege provinsies. Dié besoeke word opgeneem vir ’n Lamb Champs-sosialemediareeks wat weekliks gratis op sosiale media beskikbaar sal wees.

“In 2022 was ons aanvanklike doel met Lamb Champs om die lekkerste lamsvleis in Suid-Afrika te soek en om skaapboere se mark- en prysbepalingsvermoë te versterk. In 2023 voeg ons ’n derde komponent by vir seisoen 2. Dit is om die sosiale infrastruktuur in klein dorpies te help beskerm deur fondsinsamelingsinisiatiewe. Ons wil verder gaan as om familieboere net met die praktiese uitdagings op hul plase te help, want dit alleen sal nie keer dat verstedeliking teen ’n baie vinnige tempo toeneem nie. Ons wil daardie instansies wat in boere en hul families se sosiale behoeftes kan voorsien se hande ook versterk, want in die afwesigheid daarvan sal boere en hul gesinne voortgaan om hul plase te verlaat en dit te verkoop of verhuur of ’n naweek-wegbreekplek daarvan te maak. Ons moet die platteland die eerste keuse vir familieboere en hul gesinne maak,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Seisoen 2 se finale kompetisie sal op 29 Julie 2023 by Loftus Versveld in Pretoria gehou word. Op dié dag sal 100 familieboere van reg oor Suid-Afrika lammers op die spit braai en ‘n paneel van 25 kos- en vleiskenners sal elke lam individueel beoordeel om te bepaal wie die wenner is. Slegs 5 000 gaste sal die geleentheid kan bywoon en van enige van die 100 spitte proe terwyl ’n verskeidenheid kunstenaars hulle vermaak.

Saai wil graag boere van reg oor Suid-Afrika uitnooi om hul lammers in te skryf vir die kompetisie. Daar is R50 000 prysgeld op die spel asook ’n spogtrofee ter waarde van R80 000 wat deur die beeldhouer Nic van Rensburg gegiet is. Boere en voornemende borge kan op Lamb Champs se webblad by www.lambchamps.co.za aansoek doen. Lede van die publiek kan ook hul kaartjies om die finale kompetisie by te woon daar koop.