fbpx

Met medelye: prof. Mohammad Karaan

Dit is met groot skok en leedwese dat Saai van prof. Mohammad Karaan se afsterwe verneem. Prof. Karaan het baanbrekerswerk op akademiese, politieke en ekonomiese terreine in die landbou-industrie verrig.

Hy was die stem van redelikheid in ’n spanningsvolle era waarin daar oor die hoe, die wat en die waar oor grondhervorming besin moes word. Hy het die landbousektor op ’n voortreflike wyse by die nasionale beplanningskommissie gedien en was die argitek van hoofstuk 6 van die nasionale ontwikkelingsplan (die sogenaamde Karaan-plan). Dit is en bly steeds die mees suksesvolle model vir grondhervorming in Suid-Afrika en is ook met groot sukses elders in Afrika toegepas.

Prof. Karaan was self ’n aktiewe boer en het sowel die teoretiese as praktiese dele van landbou grondig verstaan. Hy was geliefd onder boere en laat met sy heengaan ’n onvulbare leemte. Saai sal aanhou streef om die modelle wat hy ontwikkel het vir volhoubare grondhervorming te bevorder en is saam met Agri All Africa betrokke by ’n aantal projekte waar dit prakties toegepas word.