fbpx

Mashatile se uitlating oor grondhervorming dui op onkunde

Adjunkpresident Paul Mashatile moet oor grondhervorming eers sy eie werf skoonvee voordat hy hom in die media daaroor uitlaat. In 2018 het ’n hoëvlak-paneel van ondersoek na sleutelwetgewing en die bespoediging van verandering, in hulle verslag na korrupsie, nepotisme en staatskaping as die grootste struikelblokke in die grondhervormingsproses verwys. President Cyril Ramaphosa het daardie verslag onder die mat ingevee. Eers wanneer die ANC dit uithaal, afstof en opdateer sal die wêreld hulle weer ernstiger opneem oor grondkwessies.

Mashatile hamer op “maatskaplike geregtigheid” maar swyg oor die gebrek aan geregtigheid in strafsake en siviele sake waarby ANC-hooggeplaastes betrokke is en wat al meer as ’n dekade in ons howe sloer.

Die ANC tokkel elke vyf jaar voor ’n verkiesing vinnig op die grondhervormingsnare, maar tussenin sloer hulle met die ondersoek na selfverryking, kaderbevoordeling en korrupsie in sake soos dié van David Mabuza en die MalaMala-grondeisetransaksie. Beide dié sake het die integriteit van grondhervorming in Mpumalanga ’n doodskoot toegedien.

As Mashatile hoegenaamd in die bespoediging van grondhervorming belanggestel het, sou hy die betrokke departement gekonfronteer het met hulle versuim om aan ’n hofbevel oor die openbaarmaking van ’n lys van grondeise te voldoen. Hy sou Saai se aandrang op deursigtigheid van huurarbeidereise ondersteun het en aangedring het op ’n verduideliking waarom begunstigdes van die herverdelingsprogram toenemend van huurgrond afgeskop word om plek te maak vir kaders met goeie konneksies.

Saai se gereelde terugvoer aan ambassades oor die stand van grondhervorming bewys onomstootlik dat grondhervorming nie vertraag word deur die beginsel van ’n vrywillige verkoper nie maar eerder deur ’n hopeloos onbekwame en korrupte koper. Die Motlanthe-verslag bevestig dit.

Staatsondernemings, openbare gesondheid en soveel ander staatsfunksies het nie vanweë oorgeërfde of eksterne faktore ineengestort nie maar vanweë kaderontplooiing en gepaardgaande korrupsie en onvermoë. Net so is die mislukking van grondhervorming die gevolg van ondoeltreffende praktyke in die betrokke departement. As die adjunkpresident grondhervorming wil regruk, sal dit hom goed baat om in die departement te begin.