fbpx

Mantashe se standpunt terugslag vir landbouontwikkeling

As transformasie as kaderontplooiing geïnterpreteer moet word soos wat Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, gebied, is Saai as Suid-Afrika se netwerk vir familieboere nie daarvoor te vinde nie. Die landbousektor kreun onder ondoeltreffende dienslewering en die vernietiging van infrastruktuur en werkgeleenthede wat onder die vaandel van “transformasie” deur korrupte, rasbehepte, maar onbevoegde ANC-kaders in magsposisies veroorsaak word.

Net soos wat apartheid ’n versamelwoord geword het vir alles wat verkeerd was in ’n vorige bedeling het die ANC deur kaderontplooiing van transformasie ’n oorkoepelende woord gemaak vir staatskaping, korrupsie, onbevoegdheid, nepotisme en verval in beide die staat- en die privaat sektor.

Die eerste deel van die Zondo-kommissie se verslag beklemtoon die noodwendige verband tussen kaderontplooiing (Mantashe se “transformasie”), staatskaping en verval.

Boere verkeer onder enorme druk om op groot risiko en koste die rekening vir die transformasie van die sektor op te tel. Buiten die feit dat Saai nie daarin glo dat individuele boere en sakelui op grond van rasgebaseerde kriteria die koste van ’n nasionale verantwoordelikheid moet dra nie, het die implementering van die kaderontplooiingsbeleid van die ANC ’n duidelike kriminele ondertoon, wat die kern van die Zondo-bevindinge vorm.

Saai dien die belang van familieboere van alle groottes, rasse, geslagte en produsentelyne en Mantashe se beskouing van transformasie hou ’n eksistensiële bedreiging in vir klein en mediumgrootte boerderye. Die implikasie van sy premisse dat slegs kaderontplooiing sinvolle transformasie verteenwoordig is dat alle swart ekonomiese bemagtiging in landbou en die vennootskapmodel vir landbou-ontwikkeling soos wat in Hoofstuk 6 van die Nasionale Ontwikkellingsplan beskryf word, ANC-goedgekeurde kaders moet betrek.

Regter Zondo wys in die eerste deel van sy verslag reeds uit hoe korrupte kaders die basis vorm vir die induiestorting van staatsfunksies en selfs geprivatiseerde dienslewering. Mantashe het in sy verklaring geen poging aangewend om uit te wys waar die eerlike, eerbare of doeltreffende kaders vir transformasie-aanstellings gesoek kan word nie.

Dit verduidelik ook waarom die staat nooit deur ’n behoorlike begroting in die Hoofstuk 6-model vir grondhervorming belê het nie, dit was nie vir hulle genoeg dat wit boere met swart boere of swart werkers vennootskappe sluit nie, want hulle wil spesifiek ANC-kaders laat voordeel trek.

Saai het ’n trotse baanrekord van landbou-opleiding en -ontwikkeling waaruit duisende swart boere wat onder die staat se afskeping ly, ’n voordeel trek. Saai werk aktief onder alle vlakke van swart beheerde boerderye, kommunaal, voorstedelik, kleinskaal, kommersiële en grondhervormingsboerderye.

In 2020/2021 het Saai aan duisende swart boere op alle vlakke ramphulp en kospakkies verskaf toe die staat versuim het om dit te doen en toe staatshulpbronne wat daarvoor geoormerk is, gesteel of vermors is.

Saai is intens saam met Agri All Africa, AfriForum en Pioneer Saad betrokke by die kommersialisering en modernisering van die boerdery-aktiwiteite van die Barolong Boo Seleka-gemeenskap in die Oos-Vrystaat en adviseer deur ons lede ’n groot aantal kommunale gemeenskappe wat boer.

Saai het ook namens begunstigdes van die staat se herverdelingsprogram in Transkei, Mpumalanga, die Wes-Kaap en Limpopo met die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling baklei toe hulle ten gunste van ontplooide kaders en tenderpreneurs onregmatig van hulle plase afgeskop is en sommige van daardie sake is steeds in ’n litigasieproses.

Saai help tans so ’n begunstigde in Limpopo om die grond, wat hy op ’n onsekere grondslag by die staat huur, te koop sodat hy sonder vrees van afsetting in die plaas kan belê.

In Saai het ons waarskynlik meer sukses met landbou-ontwikkeling en daadwerklike hulp aan swart boere in ’n poging om ’n klas van winsgewende swart boere te skep as wat die ANC kan wys, al moet ons die staat se werk sonder die staat se inkomste doen. Rand vir rand is Saai waarskynlik meer as ’n duisend maal doeltreffender.

Maar as Mantashe se definisie van transformasie as kaderontplooiing geld, is Saai nie bereid om sy samewerking te gee nie.