fbpx

Maak 2022 ’n jaar van aksie

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai en president van die Wêreld Landbou-organisasie, skryf:

Boere regoor die wêreld het die ontwrigting van waardekettings, skakeling met markte en veranderende verbruikersvoorkeure as gevolg van die COVID-19-inperkings ervaar wat hulle gedwing het om hulle ondernemingstrategieë te hersien en ook in baie gevalle om hul ondernemings te herstruktureer nie net om te oorleef nie, maar om te floreer.

Boere voel dit aan hul sakke as insetkostes soos die prys van kunsmis en landbouchemikalieë die hoogtes inskiet as gevolg van myne en fabrieke wat gesluit was weens die grootste verkeersknoop in menslike geskiedenis in ons oseane en hawens.

Boere het swaar gekry as gevolg hiervan aangesien restaurante, kitskoswinkels, skoolvoedingskemas, kiosks en kantiens gesluit was en straatverkopers nie ’n vinnige peuselhappie aan pendelaars kon verkoop nie.

Mense het nie gedurende die inperking opgehou om te eet nie, maar hul eetgewoontes het verander. Hulle het weer teruggekeer na familiemaaltye, tuisgekookte disse, eie resepte en selfs hul eie groentetuine aangeplant in die weke en maande wat kantore en fabrieke gesluit was. Aan die een kant het dit gelei tot surplusse op plase en miljoene kilogramme aartappels en liters melk wat nie op markte verkoop kon word nie. Aan die ander kant het miljoene mense, veral in Afrika, Latyn-Amerika en Suidoos-Asië hul werke, lewensbestaan en huishoudelike voedselsekuriteit verloor.

Die wêreld se boere produseer steeds genoeg kos om almal te voed, maar die kos is nie waar die honger mense is nie en hulle kan baie keer ook nie bekostig om daarvoor te betaal nie. ’n Fundamentele oorsig van ons voedselstelsels, voedselproduksie en die impak daarvan op die natuur en biodiversiteit sowel as van voeding en gesondheid was die kern van die globale agenda by die VN en sy agentskappe in 2021 en by die Wêreld Landbou-organisasie het ons gesorg dat die boer se stem by elkeen van hierdie debatte gehoor is.

In 2021 het ons dit reggekry om die boodskap aan beleidmakers en verbruikers oor te dra dat boere nie die probleem is nie, maar dat ons in werklikheid die enigste oplossing is wat hulle het. Daarom verdien ons ’n plek aan die tafel.

In 2022 moet ons inhoud gee aan daardie stem en die oplossings wat ons voorgestel het implementeer.

Ek wil elke boer in Suid-Afrika en in die wêreld uitdaag om 2022 ’n jaar van aksie te maak. Ek wil jou uitdaag om ’n verbintenis aan te gaan teenoor jou plaas en jou familie. Indien elke boer hulself daarop kan toespits om hul klein deel van hierdie planeet aan die volgende geslag oor te dra in ’n beter kondisie as waarin hy dit gekry het; los ons 90% van ons probleme met betrekking tot biodiversiteit, bewaring, besoedeling, gronddegradasie en klimaat op.

Elke boer weet presies wat hy of sy beter kan doen – kom ons doen dit!

Dit alles begin by grondgesondheid.

En dit is in jou hande! Mag dit van daar na julle harte klim!

Mag 2022 vir jou al die hoogtepunte van jou boerderyloopbaan bring. Mag jy ’n geseënde Kersfees vol liefde en omgee ervaar!