fbpx

Lamb Champs 2023: Paul van Rooyen het die lekkerste lamsvleis in Suid-Afrika

Saai se gewilde Lamb Champs-kompetisie is op Saterdag, 29 Julie by Loftus gehou. Dit was weereens ’n reusesukses en het aan skaapboere van regoor die land blootstelling gegee aan die verbruikers. Meer as 5 000 mense het van die 100 lammers op spitte kom proe om te bepaal watter boer die lekkerste lamsvleis in Suid-Afrika het.

Vanjaar het Paul van Rooyen van die Vrystaat met sy Meatmaster-lammer het met die louere weggestap as die lamsvleiskoning vir 2023. Van Rooyen het R50 000 prysgeld en ’n trofee deur die beeldhouer Nic van Rensburg ter waarde van R80 000 gewen. Basie van Wyk van Limpopo is naaswenner en Leon Struwig, wat S2 Boerdery verteenwoordig het, in die derde plek. Van Wyk en Struwig se lammers was onderskeidelik Dormer en SAVM.

Lamb Champs is in 2022 geloods as deel van die familieboernetwerk, Saai, se poging om die landbouwaardeketting te verkort en verbruikers meer direkte blootstelling aan produsente te gee.

“Ons wil vir die verbruiker, wat op ’n Saterdagmiddag ’n skaaptjop braai, kan sê: ‘Ontmoet vir boer A en boer B. Dít is die mense wat met soveel sorg en kennis skape teel sodat jy die beste lamsvleis op jou kole kan braai,’” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Lamb Champs is ook ’n bemarkingsgeleentheid veral tussen boere en slaghuise, hotelle, huisgesinne en restaurante. “Ons is opgewonde oor die nuwe geleenthede wat vir hierdie boere uit vanjaar se Lamb Champs gaan voortspruit,” sluit Rossouw af.