fbpx

Grondnasionalisering: Boere is skepties oor Ramaphosa

Saai verwelkom President Ramaphosa se standpunt dat die ANC nie die EFF se strewe na die nasionalisering van grond steun nie, maar glo dat die hewige reaksie van plaaslike sake-georiënteerde groepe en uit die buiteland nie oorbodig was nie.

Grondeienaars en veral boere is egter nie deur die president se uitspraak gerusgestel nie. Suid-Afrika het al daaraan gewoond geraak dat die ANC rondom omstrede kwessies ’n vlieër opstuur om die politieke klimaat te toets, en wanneer die temperatuur te warm is daarvan afstand doen en dit dan tydelik weer wegpak.

So is die idee om gewone Suid-Afrikaners te ontwapen reeds ’n paar jaar gelede deur die ANC geopper, maar ná heftige reaksie is dit as ’n blote gespreksrigting binne die party afgemaak. Nou dryf die Minister van Polisie daardie agenda weer sterk.

Die president het drie jaar gelede by die Verenigde Nasies die verskynsel van plaasmoorde ontken, maar ná omvattende negatiewe reaksie daarop, die wêreld probeer oortuig dat sy regering ernstig is om iets aan die ontstellende plaasaanvalsyfers te doen. Gegewe die gebrek aan implementering van die landelike veiligheidstrategie en die ontwapening van kwesbare plaasfamilies, is die meeste boere maar skepties oor die ANC se verbintenis tot die president se standpunte.

Die skeptisisme spruit veral uit ’n oënskynlike gebrek aan bevel- en beheersisteme in die regering. As die ANC so verbind was tot die president se standpunt teen die nasionalisering van grond, waarom sou senior leiers in die party wat direk met die beoogde grondwetwysiging gemoeid is, dan toegelaat word om so ’n radikaal anderse standpunt die wêreld in te stuur? Waarom sou die president die omvang van onsekerheid, die skade aan beleggersvertroue en die reputasieskade aan sy administrasie toelaat?

Dieselfde proses is gevolg met die nasionalisering van die Reserwebank, waaroor daar geskimp is en dit gevolglik ontken is, totdat die ANC in Nasrec ’n resolusie ten gunste daarvan aanvaar het.

President Ramaphosa se versekering dat nasionalisering van grond nie deel van die onteiening-sonder-vergoeding-pakkie is nie, is die resultaat van volgehoue druk van voorstanders van ’n vryemarksisteem, en kom nie uit die ANC se oortuiging nie. Daarom kan die druk op die regering om ’n meer besigheids- en beleggersvriendelike rigting in te slaan, ook nie verlig word nie.