fbpx

Gesamentlike landbouprojek stroop tweede graanoes

Die stroop van die tweede graanoes van die gesamentlike landbouontwikkelingsprojek wat deur AfriForum, Saai, Agri All Africa, plaaslike kommersiële boere en die Boiphitlhelelo Koöperatief by Noga’s Post in die Barolong Boo Seleka Koninkryk aangepak is, is die week afgehandel. 8,5 ton koring is geoes en gelewer by OVK Tweespruit. Koring is tydens die 2022 winterseisoen aangeplant nadat baie hoë reënval die plant van sonneblom tydens die somerseisoen verhoed het.

“’n Reis van ’n duisend myl begin met ’n enkele tree. Om die Thaba ’Nchu wat ons so begeer ’n  werklikheid te maak moet ons vasbyt. Ons moet ook ’n kultuur van selfdoen as gemeenskappe kweek. Volhoubare ontwikkeling vind plaas deur inspanning en ek bedank ons vennote dat hulle my visie omarm het en dat hulle toegewyd bly om die reis saam met my aan te pak. Die projek dien as ’n nederige voorbeeld van wat bereik kan word deur samewerking en is ook ’n bewys van ons toewyding om ’n volhoubare, selfstandige en welvarende nasie te word,” sê Kgosi Gabo Moroka, kgosi van die Barolong Boo Seleka Nasie.

“Die stabiliteit van gemeenskappe is ’n vereiste vir ’n voorspoedige toekoms vir die toekomstige geslagte van die kultuurgemeenskappe van suidelike Afrika. Goeie interkulturele verhoudings en voedselsekerheid is belangrike pilare van stabiliteit. Ons is dankbaar dat ons goeie interkulturele verhoudings kan bou en voedselsekerheid kan verbeter deur kennisoordrag en die bevordering van gemeenskapselfstandigheid deur projekte soos hierdie,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

“Hoë reënval het oorstromings en baie nat lande veroorsaak wat toegang tot die lande vir die plaaslike kommersiële boere wat as vennote op die projek werk, beperk het. Ons is dankbaar dat die projekspan kon vasbyt deur hierdie en ander uitdagings en dat koring gestroop en verkoop kon word tot voordeel van die Noga’s Post-gemeenskap. Saai is betrokke by hierdie landbouontwikkelingsprojekte om bestaansboere op voetsoolvlak wat die wil en die potensiaal het om tot kommersiële boere te ontwikkel, te ondersteun om die doel te bereik,” sê dr Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.