fbpx

Gesamentlike landbou-ontwikkelingsprojek om inheemseveldbokstoet te vestig begin

iNkosi Zwelothando Mabandla, die familieboernetwerk die Suider Afrika Agri Inisiatief (Saai) en AfriForum het hierdie week ’n gesamentlike landbou-ontwikkelingsprojek in die AmaBhele kaJamangile Koninkryk naby Maclear in die Oos-Kaap begin om ’n inheemseveldbokstoet te vestig. Dié stoet sal uiteindelik lei tot die daarstel van ’n lewensvatbare landbou-onderneming, die verhaling van die aanvanklike finansiële belegging en die verskaffing van basiskuddes vir die vestiging van toekomstige ontwikkelingsprojekte in die provinsie. Hierdie projek volg op die verkenningsbesoek aan die gebied deur verteenwoordigers van AfriForum en Saai in Junie vanjaar wat die insameling van inligting oor plaaslike toestande, landbougeleenthede en raadpleging met verskillende landbourolspelers ingesluit het.

“Ek is opgewonde oor die vooruitsig van deelname aan dié projek wat sal lei tot die vestiging van ’n inheemseveldbokstoet. Ek is ook bly dat die projek opleiding- en kennisoordraggeleenthede vir die AmaBhele kaJamangile-tradisionele gemeenskap sal skep omdat baie gemeenskapslede reeds met bokke boer. Dit is ’n voorreg om saam te werk aan ’n projek wat ook basiskuddes sal lewer vir toekomstige ontwikkelingsprojekte in die gebied,” sê iNkosi Zwelothando Mabandla van die AmaBhele kaJamangile-tradisionele gemeenskap.

“Hierdie is ’n gesamentlike landbou-ontwkkelingsprojek met iNkosi Zwelothando as die grond- en projekeienaar en Saai en AfriForum as ondersteunende medewerkers. Die erkennings-en-samewerkingsooreenkoms wat vroeër die jaar tussen die kantoor van iNkosi Zwelothando en AfriForum gesluit is het die grondslag gelê vir dié projek aangesien samewerking vir landbou-ontwikkeling en die bevordering van gemeenskapselfstandigheid van die doelwitte van die ooreenkoms is. Dié projek is nog ’n voorbeeld van die vooruitgang wat moontlik is wanneer verskillende kultuurgemeenskappe in goeder trou saamwerk op die grondslag van wedersydse erkenning en respek terwyl die voorspoed van toekomstige geslagte voorop gestel word,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

“Leon Lourens van Saai het verskillende landboubesigheidsgeleenthede gegrond op die gemeenskap, die mark en plaaslike omstandighede ondersoek. Ons het besluit om dié inheemseveldbokstoetprojek aan iNkosi Zwelothando voor te stel gegrond op die feit dat hy ervaring met kleinveeboerdery het, dat ander families wat met bokke boer ook voordeel sal trek uit die opleiding wat deel van die projek is en dat daar ’n gesonde verkoopsmark vir bokke is. Saai, as familieboernetwerk, is trots om die projek te ondersteun wat tot die voordeel van die familieboere van die AmaBhele kaJamangile-tradisionele gemeenskap sal strek,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

“Dié projek is nog ’n boublok in die skep van ’n selfonderhoudende gemeenskap. Ons koninklike familie is ten gunste van versoening en om mense te leer dat ons kan saamwerk met enige iemand wat ons waardes deel wat in vennootskap met ons kan werk om ons visie van selfstandigheid te verwesenlik. Die regering kan nie al die probleme wat gemeenskappe in die gesig staar oplos nie en ons wil graag vir tradisionele gemeenskappe leer dat dit moontlik is om self dinge te doen,” sê iNkosazana Bhelekazi Mabandla, hoof van die Koninklike Diplomatieke Diens van die koninklike Jamangile kaMabandla-familie.

LGL Indigenous Veld Goat Skilder Stoet, ’n netwerkvennoot van Saai, is betrokke as inheemseveldbokspesialis en iNkosi Zwelothando sal ook affilieer by die Inheemseveldboktelersvereniging van Suid-Afrika.