fbpx

Gesamentlike inisiatief skool leerlinge oor die landbouwaardeketting en selfstandigheid

AfriForum, Saai en die kantoor van Kgosi Mogakolodi Masibi van die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi Tradisionele Gemeenskap van Disaneng, wes van Mahikeng in die Noordwes, het kragte saamgesnoer om vir leerlinge die geleentheid te skep om te leer oor die landbouwaardeketting en selfstandigheid deur by vier skole binne die gemeenskap bome te plant. Tydens die plant van die agt-en-twintig sitrusbome – sewe bome per skool – het leerlinge ook geleer hoe bome geplant en versorg moet word.

“Ons gemeenskap is dankbaar dat die leerlinge die geleentheid kry om die verantwoordelikheid vir die versorging van die bome te dra en om te verstaan dat hulle die bome geplant het en al gaan hulle geen voordeel daaruit trek nie sal dié wat ná hulle kom die vrugte van hul arbeid kan geniet. Ons is trots op ons erfenis en ons kulturele identiteit is vir ons belangrik; daarom waardeer ons AfriForum, Saai en Witkrans Sitruskwekery se bydrae om skole in ons gemeenskap, wat na ons koninklike leiers vernoem is, te verbeter,” sê Kgosi Mogakolodi Masibi, Kgosi (opperhoof) van die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi Tradisionele Gemeenskap.

“AfriForum en die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi het vroeër die jaar bande gesmee en ooreengekom dat daar spesifiek samewerking sal wees in landbou-ontwikkeling en die bevordering van gemeenskapselfstandigheid en selfbestuur; hierdie boomplantprojek vorm deel van die uitvoering van dié ooreenkoms. Tydens die boomplantaksie het ons aan die kinders die boodskap oorgedra dat elke gemeenskapslid ’n verantwoordelikheid het om binne ons eie gemeenskappe ’n verskil te maak,” sê Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum. Kelder het ook sy dank uitgespreek teenoor Witkrans Sitruskwekery wat die sitrusbome geskenk het.

“As ’n netwerk vir familieboere is dit vir Saai belangrik dat mense, en veral kinders, verstaan dat die waardeketting, wat verseker dat ons almal kos het om te eet, by primêre produksie begin. Dit is ook belangrik vir kinders om kennis te dra van die welvaartskeppingsmoontlikhede wat landbou bied. Om bome te plant is nie bloot ’n handeling van omgewingsverbetering nie, dit dien ook as ’n praktiese voorbeeld van ’n beter toekoms wat moontlik is deur samewerking met ’n langtermyn fokus; terwyl dit ook die belofte van sterker en gesonder gemeenskappe in die land inhou,” sê Leon Lourens, ontwikkelingskoördineerder by Saai.

Die vier skole waar die bome geplant is, is vernoem na die huidige en voormalige koninklike leiers van die gemeenskap:

  • Mogakolodi Masibi Wetenskap, Kommersiële en Tegniese Skool vernoem na Kgosi Mogakolodi Masibi;
  • Tshoganyetso Laerskool vernoem Regent Tshoganyetso Masibi (1914-2004), wat namens Kgosi Mogakolodi waargeneem het;
  • Methusele II Laerskool vernoem na Kgosi Methusele Masibi (1935-1974), pa van Kgosi Mogakolodi
  • Jan Masibi Sekondêre Skool vernoem na Kgosi Jan Masibi (1901-1984), oupa van Kgosi Mogakolodi.

AfriForum en Saai sal die kantoor van Kgosi Masibi ondersteun om van hierdie projek ’n langtermynsukses te maak.

“Die wedersydse erkennings-en-samewerkingsooreenkoms met die Bathlaro Boo Tokwana Ba Ga Masibi en hierdie gesamentlike projek wat daaruit voortgevloei het vorm deel van AfriForum se plan om ’n netwerk van kultuurgemeenskappe te bou wat kan saamwerk om ’n toekoms vir ons almal hier aan die suidpunt van Afrika te verseker,” sluit Kelder af.