fbpx

Gesamentlike inheemseveldbokprojek skop af

iNkosi Zwelothando Mabandla, AfriForum en die familieboernetwerk die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) het gister die gesamentlike inheemseveldbok-landbouontwikkelingsprojek in die AmaBhele kaJamangile-koninkryk naby Maclear in die Oos-Kaap amptelik afgeskop met die lewering van die eerste 21 Nguni-inheemseveldbokke op iNkosi Zwelothando se plaas, Mncetyane. Gerhard Lourens, van LGL Inheemseveldbokskilderstoet, het ook praktiese opleiding aangebied vir lede van die gemeenskap en iNkosi Zwelothando en sy span.

Dié gesamentlike projek het ’n beplande tydsverloop van ses jaar. Die basiskudde bestaan uit ’n totaal van 41 Nguni-inheemseveldbokke wat oor twee jaar aangekoop word. Die oogmerk van die projek is om ná die ses jaar een winsgewende en volhoubare inheemseveldbokboerdery en drie volgende inheemseveldbok-ontwikkelingsprojekte daar te stel. Die oordrag van kennis oor alle aspekte van ’n bokboerderyonderneming, ook aan gemeenskapslede, is ’n noodsaaklike deel van die projekplan wat ook tot voordeel van die breër gemeenskap sal strek.

“Dit was ’n groot dag vir ons. Die bokke wat nou hier in die kraal staan is die resultaat van goeie samewerking en harde werk wat oor maande gedoen is. Ek is ook bly dat AmaBhele kaJamangile-gemeenskapslede kon baat by die opleiding wat [gister] aangebied is. Hierdie is ’n volgende tree in ons as gemeenskap se reis na selfstandigheid,” sê iNkosi Zwelothando van die AmaBhele kaJamangile-tradisionele gemeenskap.

“Dit is vir Saai ’n voorreg om waarde aan dié familieboere op voetsoolvlak toe te voeg deur opleiding en blootstelling aan stoetboerdery en die kommersiële waarde daarvan deur ons betrokkenheid by dié landbou-ontwikkelingsprojek. iNkosi Zwelothando en ander familieboere in sy koninkryk is ervare bokboere. Ons is nie besig om bestaansboere te vestig nie, maar om familieboere te ondersteun om te ontwikkel tot kommersiële boere wat tot welvaartskepping, voedselsekerheid en daarom ekonomiese groei en stabiliteit sal bydra,” sê dr Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

“Ons as Jamangile kaMabandla koninklike familie het ’n visie om die gemeenskap, wat ons as leiers dien, as ’n outonome, selfvoorsienende gemeenskap te vestig. Ons verstaan dat dit nie iets is wat sonder beplanning en harde werk gebeur nie, en dat dit stap vir stap gebou moet word. Vandag het ons nog ’n steen gelê in die toekoms wat ons besig is om te bou,” sê Prinses Bhelekazi Mabandla, hoof van koninklike diplomatieke dienste van die Jamangile kaMabandla-koninklike familie.

“Die geluk en voorspoed van die opkomende geslagte van die verskillende kultuurgemeenskappe in suidelike Afrika hang van ons, die huidige geslag, af. Dit is ons geslag se taak om goeie verhoudings en samewerking tussen kultuurgemeenskappe op die grondslag van wedersydse erkenning en respek te bou. Dié projek dien as ’n voorbeeld van gemeenskapsamewerking wat as alternatiewe benadering gevolg kan word om ’n toekoms, waar die welstand van gemeenskappe sentraal staan, te verseker. Interkulturele samewerkingsprojekte wat gemeenskapselfstandigheid bevorder, waarvan dié projek een voorbeeld is, is die praktiese boublokke van ’n netwerk van kultuurgemeenskappe wat tans gestalte kry. Dié netwerk sal gemeenskapsfederalisme versterk en daardeur ’n bydra lewer om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir kultuurgemeenskappe aan die suidpunt van Afrika te verseker,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.