fbpx

Gesamentlike groenteprojek lewer eerste oes

Die eerste oes van AfriForum, Saai en Thabake Business Enterprise se gesamentlike groenteprojek is vandeesweek suksesvol afgehandel. Blomkool en brokkoli is aan die mark gelewer terwyl kool op ’n latere stadium geoes sal word.

Lebo Mosime van Thabake het in 2022 na AfriForum uitgereik nadat sy besluit het om die kleinskaalse groenteboerdery wat sy in haar agterplaas op 2 000 m2 bedryf het, uit te brei. Hoewel sy suksesvol produkte aan die mark gelewer het, was die skaal te klein om ekonomies lewensvatbaar te wees. AfriForum en Saai het Thabake Business Enterprise bygestaan om 0.75 ha van die hoewe van 21 ha in die Phokeng-omgewing – wat Thabake van Royal Bafokeng Enterprise huur – onder songedrewe drupbesproeiing te plaas.

“Ek het kennis van groenteboerdery, maar ek wil leer en groei – ek wil ook graag kennis aan ander mense wat wil boer oordra en bydra tot ekonomiese groei en werkskepping. My visie is om ’n suksesvolle kommersiële boer te word en gesogte, hoë kwaliteit produkte te lewer. Ek wil Thabake Business Enterprise bou en groei sodat my kinders en die geslagte ná hulle dit kan erf – ek wil ’n blywende nalatenskap bou. Ek dank die Here vir dié vennootskap,” sê Mosime, stigter en uitvoerende hoof van Thabake Business Enterprise.

“Ons staan vir Thabake by om hul bestaande vermoë rondom beplanning en bestuur van die boerdery te verbeter. Ons werk ook saam met plaaslike rolspelers met die nodige tegniese kundigheid rondom keuse van variëteite, bemesting, plaag- en onkruidbeheer en om die grondkwaliteit te verbeter. Lebo verstaan hoe om te boer, ons staan haar graag by om haar boerdery te ontwikkel tot ’n ekonomies lewensvatbare landbou-onderneming,” sê Leon Lourens, ontwikkelingskoördineerder van Saai.

“Selfstandige gemeenskappe, voedselsekerheid en goeie verhoudings en samewerking tussen kultuurgemeenskappe is noodsaaklik om vreedsame naasbestaan hier aan die suidpunt van Afrika te verseker. Dit is vir AfriForum ’n voorreg om by ’n vennootskap betrokke te wees waar daar met soveel toewyding hard gewerk word om ’n impak op voetsoolvlak te maak,” sê Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

Rotering van gewasse word toegepas en daar word beplan om tydens die volgende plant-siklus groenbone, soetrissies, brandrissies, murgpampoen en botterskorsies te plant.