fbpx

Familieboereresolusie teen plaasmoorde

Die Wêreldlandbou-organisasie het ingestem om Saai se familieboereresolusie teen plaasmoorde en die swak veiligheidsituasie op die Suid-Afrikaanse platteland by die Verenigde Nasies aan te meld.

Die Wêreldlandbou-organisasie het reeds in 2015 en 2017 mosies aanvaar waarin die wêreld se landbouleiers hulle steun en simpatie aan Suid-Afrikaanse boere as slagoffers van geweld wat aangehits is, toegesê het. Met die loodsing van die Verenigde Nasies se Dekade van Familieboere in 2019 in Rome is daar pertinent verwys na die impak van plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding op die volhoubaarheid van landbou in lande soos Suid-Afrika, Venezuela, Zimbabwe, Oos-Kongo en die Noorde van Nigerië.

Die EFF se aanhitsing tot geweld teen boere deur die dreunsang “Kill the farmer, kill the Boer” en hulle herhaaldelike weiering om hulself daartoe te verbind om nie in die toekoms ’n volksmoord op boere te ontketen nie, maak steeds internasionaal opslae.

Met dit, en die eskalerende plaasmoordsyfers saam met Julius Malema se kwalik bedekte dreigement dat die EFF nie moorde op boere beveel nie, “ten minste nie nou nie”, maar dat dit in die toekoms nie uitgesluit kan word nie, het Saai as familieboernetwerk laat besluit om wyer as plaaslik beregtiging te soek.

Toe Saai in 2019 in die raamwerk van die Verenigde Nasies se Dekade van Familieboere in hul familieboereresolusie die Verenigde Nasies se aandag op ’n benarde landelike veiligheidsituasie begin plaas het, het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en die Gelykheidshof nog nie hulle bevindings ten gunste van die EFF se gesing van “Kill the farmer, kill the Boer” gemaak nie. Terwyl AfriForum die saak in September in die Hoogste Hof van Appèl en daarna waarskynlik in die Konstitusionele Hof verder gaan voer om plaaslike remedies uit te put, fokus Saai op ander meganismes in die Verenigde Nasies, Europese Unie en ander multilaterale instellings, insluitend die Voedsel en Landbou-organisasie en die Verenigde Nasies se Menseregtekommissie (OHCHR), om op te tree teen die toksiese klimaat wat vir plaasaanvalle geskep word.

Hoewel Saai aktief deelneem aan en bydra tot honderde plaaswagte, kamerastelsels, radionetwerke, noodsentra en reaksiespanne om plaasaanvalle te bekamp, is die deurslaggewende faktor vir oorlewing ’n parate individu op elke plaas wat onmiddellik gereed en toegerus is om ’n aanval af te weer totdat die bure, plaaswag, sekuriteitsdienste of polisie opdaag. Niks kan persoonlike weerbaarheid troef of vervang nie.

Saai se inisiatiewe om plaaslik en internasionaal ’n groter bewustheid van plaasaanvalle te skep is daarop gemik om druk op die Suid-Afrikaanse regering, en veral die veiligheidsmagte, te plaas om die probleem te erken en die landelike veiligheidsplan te implementeer. Saai eis onder meer dat daar opgetree word teen diegene wat plaasmoorde aanhits en besing.