Terwyl die gronddebat weereens in die aanloop tot die verkiesing kookpunt bereik, is heelwat familieboere van regoor die partypolitieke spektrum nog onseker oor die landboubeleid en -visie van politieke partye wat vir hul stemme meeding. Boere stem nie almal vir dieselfde party nie, maar deel wel ’n belang in hoe beleide ontwikkel en geïmplementeer word en waarheen Suid-Afrika bestuur word.
Die kommersiële landbousektor in Suid-Afrika is steeds die mees mededingende in Afrika, en hou Suid-Afrika nog op koers as netto-uitvoerder van voedsel. Onverantwoordelike grondhervorming, soos onteiening sonder vergoeding, kan produksie en mededinging egter ontwrig en voedselsekerheid in gedrang bring. Dit het in Zimbabwe, Venezuela en bykans elke ander land gebeur wat dié radikale grondhervormingsroete gekies het. Voorstaanders daarvan kon nog geen geloofwaardige aanduiding gee hoe dieselfde rampspoedige gevolge in Suid-Afrika vermy kan word nie.
Onteiening sonder vergoeding – of selfs teen vergoeding laer as markverwante – stel die totale landboufinansieringstelsel in Suid-Afrika aan risiko’s bloot en is nie in belang van landbou nie. Die Motlanthe-verslag oor grondhervorming wys duidelik dat die huidige wette en prosesse toereikend kan wees om grondhervorming suksesvol deur te voer en dat ’n klas van winsgewende swart boere geskep kan word – mits korrupsie, wanadministrasie en nepotisme uitgeroei kan word.
Water is ewe belangrik in die stabiliteit en groei van die landbousektor. Boere is afhanklik van ’n regering wat die belangrikheid van damme, infrastruktuur, nougesette en bekwame administrasie van water en die instandhouding daarvan verstaan en kan implementeer.
Elektrisiteitstekorte het die afgelope maande enorme skade aan boerderye veroorsaak. Suid-Afrika se landbou smag na ’n bestel waar elektrisiteit bekostigbaar en betroubaar op plase gelewer kan word – vry van stroping, korrupsie en wanadministrasie. Boere wil by politieke partye weet hoe hulle die verval van Eskom gaan stuit en omkeer, en of hulle bereid is om (soos in Europa) aan boere die geleentheid te bied om elektrisiteit op plase op te wek en teen ’n wins in die kragnetwerk te verkoop.
Misdaad is een van die grootste remskoene vir landbougroei: Die omvang van plaasaanvalle en diefstal van vee, vrugte, wild en gewasse maak selfs in die buiteland opslae. Politieke leierskap moet ’n skoonmaakveldtog in die polisiediens van stapel stuur en landelike polisiestasies se prestasies moet bestuur word. Waar howe bevind dat die polisie sy plig versuim, behoort die bevelstruktuur tot aanspreeklikheid geroep en vervang te word. ’n Doeltreffende polisiediens is ’n voorwaarde vir stabiliteit in die platteland.
Misdaad speel egter nie die enigste vernietigende rol in landbou nie. Dienslewering op munisipale vlak, elektrisiteitsvoorsiening, sosiale dienste soos onderwys en gesondheid, die onderhoud van infrastruktuur soos paaie, en hulp aan opkomende boere gaan in die platteland onder korrupsie en selfverryking gebuk. Boere sal hul vertroue in ’n party plaas wat die diepgewortelde kaping van staatshulpbronne uitroei en teen die skuldiges optree.
Korrupsie en kaderontplooiïng het ook sy tol in die departement van landbou, bosbou en visserye geëis en die doeltreffende funksionering van dié departement aan bande gelê. Dit kniehalter landbou se internasionale mededingendheid en bevorder werkloosheid en armoede. Die gebrekkige ramphulp tydens die droogte, die uitbreking van bek-en-klouseer en die gesukkel om permitte en sertifikate betyds te bekom, spreek van ’n wanfunksionaliteit wat dieper as net onbevoegde amptenare lê.
Boere – groot en klein, ryk en arm, wit en swart – is nou op soek na ’n regering wat ’n beleidsomgewing kan skep waarbinne die landbou se winsgewendheid en volhoubaarheid kan gedy. Hulle wil ’n regering hê wat skoon administrasie najaag en ’n nierassige samelewing kan bevorder waar geen diskriminasie op grond van velkleur in die toekenning van ramphulp, permitte, geleenthede of dienslewering bestaan nie.
In kort: Boere sal vir ’n party stem wat landelike ontwikkeling ernstig opneem, wat die produksieprosesse ken en moeite doen om landbou in die geheel te verstaan.