fbpx

Familieboer-brandpunte is Saai se prioriteit by die loods van VN se Dekade van Familieboerdery

Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (VLO) en die Internasionale Fonds vir Landbou-ontwikkeling, in samewerking met ander relevante organisasies verbonde aan die Verenigde Nasies (VN), behartig die afskop van die VN se Dekade van Familieboerdery in Rome, Italië, op 29 Mei 2019.

Hierdie resolusie bou op die sukses van die internasionale jaar van familieboerdery wat in 2014 geloods is en vele bydraes gelewer het om die VN se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte te help verwesenlik. Een van die resolusie se hoofdoelwitte is om verskeie belanghebbendes op internasionale vlak te bind om die posisie van familieboere te versterk deur middel van beleggings en die ontwikkeling en implementering van ’n gunstige beleid.

Volgens die Internasionale Fonds vir Landbou-ontwikkeling produseer familieboere meer as 80% van die wêreld se voedsel en bestuur hulle 75% van alle landbouhulpbronne. Familieboere is, onder andere, noodsaaklik om voedselsekuriteit te verseker en gemeenskappe te anker en is die mees effektiewe sektor om werkloosheid te verminder.

“Die wêreld besef dat familieboere ’n integrale rol gaan speel om ons dreigendste probleme op te los. Daarom is hierdie resolusie vir die Dekade van Familieboerdery eenparig in Oktober 2017 deur die VN aanvaar en word dit nou wêreldwyd geïmplementeer om boere die nodige ondersteuning te bied,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Die amptelike loodsing word voorafgegaan deur twee dae van samesprekings tussen organisasies en belanghebbendes, asook besprekings oor die aksieplanne vir die implementering van die inisiatief. Dr. Theo de Jager, Saai se uitvoerende voorsitter en herverkose president van die Wêreld Landbou-organisasie (WLO), tree as een van die gassprekers by hierdie geleentheid op.

Rossouw, wat namens Saai die loodsing van die inisiatief gaan bywoon, noem die volgende vier uitdagings as die grootste struikelblokke wat familieboere in Suid-Afrika tans in die gesig staar:

  1. Klimaatsverandering en die gevolge daarvan, soos die deurlopende droogte wat ons tans in groot dele van ons land ervaar;
  2. Die steeds teenwoordige bedreiging van onteiening sonder vergoeding en die aanslag op privaat eiendomsreg;
  3. Plaasmoorde en ander misdaad; en
  4. Toegang tot finansiering.

“Dit is vir ons van die uiterse belang dat die uitdagings wat boere in Suid-Afrika beleef, by hierdie forum op die internasionale agenda geplaas word. Familieboere in Suid-Afrika skep welvaart in plattelandse dorpies en is ’n teenwig vir grootskaalse migrasie na stede. Boere verseker nie net voedselsekerheid en ekonomiese stabiliteit in ons eie land nie, maar is ook die hefboom wat by wyse van hul kundigheid en vermoë welvaart vir die res van Afrika kan ontsluit,” voeg Rossouw by.

Indien jy jou vereenselwig met die lot van familieboere in Suid-Afrika, voeg jou mandaat op ons webblad by: https://saai.org/saai-gaan-vn-toe-ondersteun-saai-se-prioritisering-van-die-familieboer/