fbpx

Dr. Theo de Jager vereer met die 2021 Landbou Oscar-toekenning

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, is deur die Commercial Farmers Union of Zimbabwe (CFU) met die 2021 Landbou Oscar-toekenning vereer. Dié prestige toekenning word jaarliks toegeken aan ’n persoon wat die horisonne van landbou in Zimbabwe verbreed. Hierdie toekenning is op 17 November tydens CFU se 78ste kongres oorhandig.

Die CFU verteenwoordig onder meer slagoffers van gewelddadige grondgrype. Sowat 6 000 wit boere is sedert 2000 van hul plase verdryf. Dit het aanleiding gegee tot omvattende sanksies, ekonomiese verval, werkloosheid en armoede in Zimbabwe.

De Jager is vereer vir sy rol in onderhandelinge tussen die CFU en die Zimbabwiese regering rakende vergoeding aan slagoffers van onteiening, wat tot die Global Compensation Agreement van 30 Julie 2020 aanleiding gegee het.

Die toekenning gee ook erkenning aan die manier waarop De Jager sedert 2017 Zimbabwiese boere by die Wêreld Landbou-organisasie verteenwoordig en hulle belange op internasionale platforms gedra en bevorder het. De Jager is aanvanklik deur die CFU genomineer om Afrika-belange op die direksie van die Wêreld Landbou-organisasie te verteenwoordig, maar is toe as president van dié organisasie verkies.

*Die Zimbabwiese regering kon teen die verstrykingsdatum van die vergoedingsooreenkoms op 30 Julie 2021 nie presteer nie, en het vir ’n verlenging na Mei 2022 gevra. Die skikking sluit vergoeding vir die waarde van grond uit.