Doeltreffende besteding is belangriker as groter inkomste

Na aanleiding van gister se begrotingsrede is Saai skepties oor die klein begroting om grondeise te finaliseer. Tito Mboweni, minister van finansies, het gister genoem dat R500 miljoen vir die finalisering hiervan begroot is.

Volgens Theo de Jager, Saai se direksievoorsitter, is daar baie meer plase onder onafgehandelde grondeise in die Staatskoerant gelys as wat daar in die afgelope 20 jaar gekoop is. Die totale begroting daarvoor is maar die helfte van wat die staat aan ’n enkele plaas, Mala-Mala, in ’n grondeis bestee het.

“Die staat se begroting vir grondeise vir die volgende drie jaar is trouens maar net 2% van wat Roelf Meyer deur sy nuutgestigte landbou-ontwikkelingsagentskap vir die ondersteuning van begunstigdes verbind het. Uitstaande hofsake teen die departement kan, gegewe hul swak baanrekord in die howe, die totale begroting insluk. Die ontoereikende begroting vir grondhervorming is net nóg ’n bewys dat die regering – ondanks die misbruik van die grondkwessie om onrealistiese verwagtinge by arm landelike gemeenskappe te skep – nie ernstig is om ’n gesonde en mededingende landbousektor te onderhou of ’n klas van suksesvolle swart boere met winsgewende plase te skep nie,” sê De Jager.

Wat landbou betref, was van die hoogtepunte die bevestiging van onafhanklike kragvoorsiening aan die nasionale netwerk, die voorlopige bedrag van R500 miljoen vir ramphulp soos wat tans met die deurlopende droogte ervaar word, en R495,1 miljoen vir bio‑sekuriteit na aanleiding van die onlangse bek-en-klouseer-uitbraak. Hierdie bydraes kan vir geaffekteerde boere verligting bring mits dit ondiskriminerend by hulle uitkom.

“Dit is nie die hoeveelheid fondse wat toegewys word wat die probleem is nie, maar eerder hóé die beskikbare fondse aangewend word,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Mboweni is in die kol met sy stelling dat die staat nou meer met minder fondse sal moet doen en dat korrupsie, wanbesteding en staatskaping uitgeroei moet word.

“Die versterking van die Nasionale Vervolgingsgesag en spesiale ondersoekeenhede met R2,4 miljard, tesame met misdaadveroordelings soos dié wat uit die Zondo-kommissieverhore spruit, is positiewe tekens, maar dié gebare kan eers as legitiem beskou word sodra daar daadwerklike vervolging is,” voeg Rossouw by.

Suid-Afrika het ’n betreurenswaardige geskiedenis van wanbesteding en korrupsie, en selfs die beste begroting is kwesbaar solank as wat die skuldiges die beursies beheer. ’n Finansiële ommekeer begin by die vervolging van korrupte amptenare, en nie by verhoogde druk op belastingbetalers nie.