fbpx

Die Wynboer en OK vat hande om familiewynboere se wyne te verkoop

Kleiner en mediumgrootte wynboere sukkel steeds om die vernietigende gevolge van die verbod op wynverkope onder COVID-19-regulasies te oorkom, al het pres. Cyril Ramaphosa op 13 September 2021 aangekondig dat Suid-Afrika na Vlak 2 van die inperking kan skuif. Wynboere verwelkom dié verslapping, maar voel dat alle COVID-19 verwante beperkings op die verkoop van wyn opgehef moet word sodat verkope wat aan lisensievoorwaardes voldoen na normaal kan terugkeer.

Met die skuif na Vlak 2 het Die Wynboer en OK-groep hande gevat om wyne van familiewynboere wyer in Suid-Afrika te versprei. ’n Nuwe promosierak, wat op ’n rotasiebasis elke agt weke aan drie wynplase op ’n slag blootstelling sal gee, gaan in 142 OK Liquors, OK Grocers en OK Minimarkte ingerig word.

Ná ’n jaar van die swakste verkope tot nog toe in die wynbedryf, is dié inisiatief die eerste van sy soort.

“Ons was sedert die loodsing van Die Wynboer in 2020 met die OK-span in onderhandelings betrokke om dié rak te laat realiseer,” sê Kwagga Boucher, uitvoerende hoof van Die Wynboer, wat met die loodsing van Die Wynboer reeds onderneem het om namens familiewynboere vir rakspasie en geleenthede te beding. “As boere weet ons hoe moeilik dit is om jou produkte regoor die land op rakke te kry en al is agt weke nie ’n lang tyd nie, help dit jou om ’n voet in die deur te kry by drankwinkeleienaars wat dalk kan besluit om jou wyn permanent aan te hou,” voeg Boucher by.

Met dié rak wil OK ook aan hul verbruikers toegang gee tot wyne wat nie voorheen geredelik beskikbaar was nie. Die eienaars van die 142 winkels het die geleentheid aangegryp en sien uit om ’n pad saam met die familiewynboere te stap.

Gaan loer gerus by jou naaste OK in en ondersteun die winkel wat die familiewynboere ondersteun. Hou Die Wynboer se webtuiste dop om te sien watter wyne beskikbaar is.