fbpx

Die ontwapening van slagoffers maak nie sin nie

Deur Dr. Theo de Jager

Min kwessies bied sterker bewyse van hoe ver die ANC van die werklikheid verwyderd is as minister Bheki Cele se pogings om selfverdediging as motivering vir die besit van ’n vuurwapen te skrap.

Sedert die ANC in 1994 aan bewind gekom het, word daar elke tweede dag gemiddeld een plaas aangeval en elke vyfde dag ʼn boer of ’n lid sy gesin, ’n gas of ’n plaaswerker vermoor. Wêreldwyd word die Suid-Afrikaanse boer op grond van bevestigde data erken as die gevaarlikste beroep: Jou kanse om as onskuldige gemartel en om die lewe gebring te word, is groter as in enige huidige oorlog, wetstoepassing of terreurveldtog.

Soos wat die jongste plaasmoorde verlede week weer bevestig het, is die vermoë om terug te skiet deurslaggewend tot oorlewing in ’n plaasaanval. Elke navorsingsverslag, alle data en elke getuienis van slagoffers wat plaasaanvalle oorleef, onderstreep die belangrikheid dat boere en hul gesinne weerbaar moet wees, vuurwapens byderhand en gereed moet hê, en moet weet hoe om dit doeltreffend te gebruik. Bheki Cele se blatante pogings om boere te ontwapen, het geen wetenskaplike gronde nie, maar ontbloot eerder ’n duistere politieke agenda.

Die tragiese verhaal van plaasmoorde in Suid-Afrika begin trouens by die ANC self. Wyle Peter Mokaba, ’n leier van die ANC-jeugliga in die vroeë 1990’s en later adjunkminister in Nelson Mandela se kabinet, het die dreunsang Kill the farmer, kill the Boer! by massabyeenkomste van dié party gewild gemaak. Die ANC was sedertdien nog nooit bereid om die lied te veroordeel en homself daarvan te distansieer nie. Die ANC het self doelbewus die gesindheid geskep waarin die verskriklike verskynsel van plaasmoorde ontvou.

Soos in die EFF se massa-optogte in Senekal ná die moord op die jong Brendan Horner in Oktober 2020, doen die SAPD absoluut niks teen aanstigters wat in die huidige plofbare geweldsituasie steeds graag Kill the farmer, kill the Boer! sing nie – ook nie aan duisende plasings op sosiale media wat die onmenslik wrede marteling en moorde verwelkom en selfs aanmoedig nie.

In die vroeë 2000’s het die ANC die kommandostelsel, wat die hoeksteen van die landelike veiligheidsisteem gevorm het, ontbind te midde van groot besorgdheid oor die kommerwekkende plaasaanvalstatistieke. Dit was aanvanklik gegrond op ’n leë belofte dat die funksies van die kommando’s deur ’n uitgebreide plattelandse reservistestelsel vervang sou word, maar daar het niks van gekom.

Die plan vir landelike veiligheid is meer as vyftien jaar later steeds nie in werking gestel nie.

Amptelike data oor plaasaanvalle is vir baie jare dig gehou, maar deurslaggewende en betroubare monitering deur ’n aantal burgerlike organisasies het die regering se geheimhouding daarvan ongedaan gemaak. Ten spyte van wyd gepubliseerde plaasaanvalstatistieke, het pres. Ramaphosa steeds die verskynsel in 2018 by die VN in New York ontken.

Die SAPD weet dat hulle nie die mannekrag of vermoë het om die gruwelike plaasaanvalsyfers om te keer nie. Hulle erken self dat reaksietye in die afgeleë platteland ondoeltreffend stadig is.  Boonop is die verlies aan vuurwapens uit polisiestasies – en deur SAPD-beamptes self – skrikwekkend hoog: ongeveer 2 200 per jaar oor die afgelope 12 jaar. Vir meer as 10 miljoen patrone kan die SAPD geen verantwoording doen nie. Volgens hul eie statistieke is daar niemand wat meer wapens en ammunisie in geweldsmisdadigers se hande laat beland as die SAPD self nie. Tog vind die redelose dryf na die ontwapening van boere onder die aanvoering van die polisieminister plaas.

Verskeie burgerlike organisasies beveg op alle fronte die ANC se poging om geweldslagoffers weerloos te maak. Die parlement en howe is maar twee van die voor die hand liggende strydvelde, en sowel die konvensionele as sosiale media word oorval met protes teen Cele se pogings. Saai se veldtog in buitelandse media is deur 20 van die wêreld se grootste mediagroepe gedra, waaronder Sky News, CNN, BBC, Washington Post en Deutsche Welle gedra. Die ANC het die morele hoë grond in die kwessie verloor.

In Noord-Amerika en Europa word die lot van Suid-Afrikaanse boere onder drie hooftemas gedefinieer: 1) onteiening sonder vergoeding, 2) plaasmoorde en 3) die redelose ontwapening van slagoffers. In die openbare diskoers word die drie temas met mekaar in verband gebring – en die ANC het nie ’n goeie storie om te vertel nie.

Intussen moet boere oorleef, en hul gesinne, werkers en plase veilig hou. Hulle moet hulself in plaaswagte organiseer om die mees basiese funksies van die staat – die beskerming van burgers – te vervang. Daarvoor moet hulle gewapen wees om hulself te kan verdedig. Wanneer daar geen alternatief vir die beskerming van jou huis, plaas en gesin is nie, is dit gevaarlik en onwys van die regering om met wettige vuurwapenlisensies te karring.