fbpx

Burgerlike samelewing en kultuurgemeenskappe doen beroep vir die herstel van die SAOG-tribunaal

Die Mike Campbell-stigting, die Mthwakazi Republiek Party (MRP), die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai), AfriForum en die kantoor van Kgosi Mogakolodi Masibi van die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi-kultuurgemeenskap het vandag ’n memorandum aan die sekretariaat van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) gestuur waarin ’n beroep op die SAOG gedoen word vir die herstel van die SAOG se streekshof, die SAOG-tribunaal. Die verteenwoordigers het ook ’n afskrif van hierdie memorandum onderteken by die historiese Turnhalle-gebou, die voormalige setel van die tribunaal, as simbool van hul beroep op die SAOG.

Lede van die Namibiese Regsvereniging, plaaslike boere, familielede en ondersteuners van hierdie veldtog vir geregtigheid het ook by die verteenwoordigers aangesluit ter ondersteuning van hierdie historiese geleentheid en veldtog.

Die simboliese ondertekening van die memorandum was die finale stap in ’n tweeledige trek wat Ben Freeth, uitvoerende direkteur van die Mike Campbell-stigting, op 28 November 2023 by die hek van die plaas Mount Carmel, in sentraal-Zimbabwe, begin het.

“Hierdie hof vir geregtigheid was oop vir enige SAOG-burgers wie se regstelsel hulle in hul eie land gefaal het. Die effektiewe sluiting van die tribunaal was ’n verwringing van die gereg wat meer as 400 miljoen burgers in 16 SAOG-lande van geregtigheid ontneem het,” verduidelik Freeth.

“Die mense van Matabeleland in Zimbabwe ly steeds weens die versuim om historiese ongeregtighede die hoof te bied, insluitende die Gukurahundi-volksmoord van 1983 tot 1987, en die voortsetting van marginalisering veroorsaak deur ontworteling, weiering van ekonomiese geleenthede, toegang tot produktiewe grond en die ontkenning van die reg om ons kultuur te beoefen deur middel van die herstel van ons koninkryk. Etnies gebonde en rassevooroordele duur ongestraf voort, ontneem minderhede van hul burgerregte en hul reg tot selfbeskikking. Daarbenewens vererger die eensydige toe-eiening van kommunale en landbougrond deur die regerende elite, dikwels tot hul eie voordeel en dié van buitelandse belange, ongelykhede en ongeregtigheid binne ons gemeenskappe. Die herstel van die SAOG-tribunaal sal noodsaaklike wigte en teenwigte teen korttermyn- politieke belange vestig en die regerings van die SAOG se verbintenis tot menseregte, geregtelike orde en geregtigheid vir alle burgers in die SAOG-streek, herbevestig,” sê Mqondisi Moyo, president van die MRP.

“As ’n netwerk van familieboere en verteenwoordiger van die meerderheid van Zimbabwiese kommersiële boere, is SAAI hier om druk te plaas op die herstel van die SAOG-tribunaal. Ons het die hulp van die internasionale gemeenskap nodig om sy deel te doen om te verseker dat vergoeding betaal word aan die wit Zimbabwiese boere wat steeds nie vergoed is vir die grond, waarvan hulle die titelaktes het en waarvan hulle met geweld afgesit is nie,” sê dr. Theo de Jager, uitvoerende direksievoorsitter van SAAI.

“Dit is ’n voorreg vir AfriForum om saam te werk met ander organisasies en kultuurgemeenskappe om geregtigheid te laat geskied en eiendomsreg van alle gemeenskappe in suidelike Afrika te beskerm. Ons is dankbaar vir die talle regs- en ander oorwinnings wat reeds gesamentlik in hierdie lang proses behaal is, en ons bly verbind tot hierdie strewe. ’n Herstelde SAOG-tribunaal het ’n noodsaaklike rol om te vervul om vreedsame naasbestaan en ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir alle kultuurgemeenskappe in suidelike Afrika te verseker – veral in gevalle waar geregtigheid aan gemeenskappe en individue in hul eie lande geweier is,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

“Kultuurgemeenskappe in die landelike gebiede van suidelike Afrika het ’n groot behoefte aan ontwikkeling. Die sleutel tot ontwikkeling is investering – werksgeleenthede volg daarop en vooruitgang word oor tyd opgebou. Ons ondersteun die herstel van die SAOG-tribunaal ten volle, aangesien dit ’n boodskap aan potensiële donateurs, beleggers en die internasionale gemeenskappe stuur dat die regerings van die SAOG werklik verbind is tot die oppergesag van die reg,” sê Kgosi Mogakolodi Masibi, Kgosi van die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi.

Mike Campbell en sy skoonseun, Ben Freeth, het in 1999 bevestiging van die Zimbabwiese regering ontvang dat die staat geen belang het om Campbell se plaas, Mount Carmel, vir sy grondhervormingsprogram te bekom nie. Twee jaar later is ’n uitsettingskennisgewing aan Campbell uitgereik as deel van die Zimbabwiese regering se program van grondonteiening sonder vergoeding. Campbell en Freeth het die saak na die Hooggeregshof in Harare geneem, maar was onsuksesvol. Daarna is die saak na die SAOG-tribunaal geneem. Die SAOG-tribunaal het uiteindelik op 28 November 2008 in Campbell en Freeth (en ander boere wat by die regsaksie aangesluit het) se guns beslis, bevind dat die Zimbabwiese regering die SAOG se beginsels van menseregte geskend het en beslis dat die boere die reg het om hul plase te besit en te bewerk. Die Zimbabwiese regering het die beslissing geïgnoreer; die plaas is beset en Campbell, Freeth en die plaaswerkers en hul gesinne se huise is in 2009 afgebrand. Die regerings van die SAOG het daarna besluit om die werksaamhede van die SAOG-tribunaal op te skort. Die Suid-Afrikaanse Konstitusionele Hof het in 2018 beslis dat die Suid-Afrikaanse regering se betrokkenheid by die proses om die tribunaal se werksaamhede op te skort, ongrondwetlik, onregmatig en irrasioneel was. Die regsgeding duur steeds voort.

“Ons het nie die stryd om geregtigheid verloor nie; die bose kry op die ou end nie die oorhand wanneer genoeg mense saamstaan vir dit wat goed en reg en regverdig is nie. Ons is geëerd om deel van so ’n dinamiese groep rolspelers te wees; ons staan aan die regte kant van geskiedenis,” sluit Freeth af.