fbpx

Bokboerdag gee blootstelling aan dié bedryf

Boerbokdag of eerder bokboerdag is op 11 November 2021 by Buffelsfontein Beesboerdery-restaurant in Menlopark, Pretoria, gehou om die bokboere van Suid-Afrika te vier. Ná die sukses van vorige dae soos die #GaanJagDag en Volstruisdag, het Saai besluit om voor die einde van die jaar weer so te maak.

Bokboere in Suid-Afrika ervaar baie uitdagings of dit nou droogte in die Oos-Kaap is wat die sybokhaarboere knou, bek-en-klouseer wat inheemse bokke en uitvoere kniehalter of People for the Ethical Treatment of Animals (Peta) wat bokboere gereeld in geheel teiken oor volhoubare en verantwoordelike boerderypraktyke. Die grootste uitdaging is egter die tekort aan bokke vir hierdie groeiende mark.

“Baie mense dink sybokhaarbokke kom van skape af. Dit is waarom ons elke geleentheid aangryp om bewusmaking en blootstelling van sybokhare te bevorder. Daar is nog baie groeipotensiaal vir hierdie bedryf,” sê Sanmarie Vermaak van die Suid-Afrikaanse Sybokhaarkwekersvereniging.

Terwyl gaste heerlik aan die bokspit en bokmelkroomys gesmul het, het Gerhard Lourens van die Inheemse Veldbok-telersgenootskap, die nuutste markneigings en syfers van bokboerdery met gaste gedeel. Hy het die twee bokke vir die spitbraai geskenk aangesien daar volgens hom nog nie so ʼn geleentheid vir bokboere was nie en hy is vreeslik opgewonde vir wat dit vir die toekoms van bokboere kan inhou. Die vraag na kleinvee het tydens COVID-19 in die geheel gegroei en met dit bygesê is daar steeds nie genoeg bokke vir die mark nie.

“Baie mense in die stad het ’n vooropgestelde idee oor bokvleis en hier staan ons vandag en mense kan nie glo dat dit nie ’n skaap op die spit is nie. Daar is ’n wanpersepsie dat bokvleis/chevon glad nie gewild is nie omdat ’n mens dit nêrens op winkelrakke aantref nie. Inteendeel, dit is juis die gewildheid van bokke wat veroorsaak dat daar nooit ’n surplus is om in die kommersiële vleismark in te stoot nie,” voeg Lourens by.

 

Daar is talle buitelanders wat in die land woon wat daarvan hou om bokvleis te eet en dit stoot die vraag na bokvleis in restaurante en kettingwinkels op. Geleenthede soos hierdie dag skep blootstelling op elke moontlike vlak om die ras te bevorder en te adverteer. “Daar is steeds baie uitdagings wat toekomstige boere verhoed om die bokmark te betree, maar ons werk daaraan om ons handelsmark uit te bou en om meer mense in te trek om hulle aan die ongelooflike ras bekend te stel,” beaam Alida Dreyer van SA Kalahari Red-klub.