fbpx

Boere dankbaar vir boorgate in Steytlerville

Vir meer as ’n maand reën dit in groot gedeeltes van die land – self dié plekke waar dit nou al vir jare droog is. Met elke goeie reënval is daar talle berigte oor boere wat jubel en juig oor die seëninge uit die hemele. Mense in stede wat nog nie eens self in daardie dorpe was nie juig saam, want hulle het ook al hierdie boere se noodkrete gehoor.

Die boere wat in hierdie droogte moes oorleef, het elke dag in skape se gesigte vasgekyk en geweet hulle sal hulle nie kan deurtrek nie, na store vol sade gekyk terwyl hulle weet hulle sal nie kan plant nie, hulle het na hul werkers gekyk en geweet daar is nie werk nie.

Tydens die droogte in die Oos-Kaap was daar ’n paar boere wat uitgereik het vir meer volhoubare droogtehulp. Alhoewel hulle die duisende voerskenkings van talle organisasies opreg waardeer, het hulle geweet dat wanneer die skenkings ophou, hulle nie kop bo water gaan kan hou nie.

Volgens Colin Wilken, ’n boer van Steytlerville, was water nooit ’n groot probleem op sy plaas nie, maar die afgelope jare het die watertafel merkbaar gesak en sommige boorgate het heeltemal opgedroog.

Bertus Griebenouw, Saai se verteenwoordiger in die Oos-Kaap, het ’n plan beraam om boorgate te sink vir hierdie boere. Boere in die Steytlerville-omgewing het onder mekaar gereël en binnekort was daar 36 name op die lys. Dit was ’n absolute verligting toe Saai en Santam aangebied het om boere te help om water aan te wys en dan te boor.

“Hierdie ses, sewe jaar se droogte in die Klein Karoo naby Steytlerville, het ons lamgelê in soveel opsigte. Die groot dag het aangebreek en waterpunte is aangewys. Ons het met soveel gemengde gevoelens langs die boormasjien gestaan. Is daar water? Die afwagting was sieldodend, maar dit was absolute vreugde toe die water begin uitspuit. Die boorman Hennie Nel het uitgeroep dat daar genoeg water is. Daar was groot vreugde en dankbaarheid oor die water. Ek weet nie wanneer die droogte gaan eindig nie. Ek weet ook nie hoe lank ek nog my vee kan voer nie. Wat ek wel weet is dat ek water vir my vee het. In die stilligheid dank ek God innig vir hierdie stroom water. Die hele distrik is opgewonde en ongeveer 30 boorplekke is geïdentifiseer waarvan 23 suksesvol was.”

Volgens Hanlie Kroese van Santam het hulle by dié projek betrokke geraak omdat Santam ’n verantwoordelike onderneming wil wees wat “meer as net versekering” doen. Santam het ’n verantwoordelikheid om te help bou aan veerkragtige samelewings en om ’n lewendige landbousektor vir boere te help stimuleer. “Die landboubedryf ervaar baie uitdagings en met ons bydrae en ondersteuning wil ons ons waardering aan die sektor toon en wys dat Santam waarde heg aan wat landbou vir volhoubaarheid en groei doen,” sê Kroese.

“Om my boerdery dag vir dag te sien agteruitgaan, is hartverskeurend. Om elke dag te wonder of ek die korrekte voer meng, of ek nog lusern, hooi of gars sal kry, is baie swaar. Die verskriklike hoë koste van vervoer kniehalter ’n reeds geknakte boer. Ek probeer positief bly, maar sommige dae, veral wanneer daar feitelik geen reën op my plaas val nie terwyl dit op buurplase reën, maak dit soveel erger om weer op te staan en voort te gaan. Min mense besef die gruwelike uitdagings van die bykans ses jaar se droogte, die psigiese, fisiese en finansiële uitdagings, maar in pikdonker tye gebeur daar telkens iets wat jou weer laat kop oplig. ’n Vrag geskenkte voer arriveer, ’n kennis of vriend laai net ’n vraggie voer af, maar dan gebeur die ergste, boorgate begin opdroog. Voer kan jy koop, maar nie water nie,” sê Albie Jacobs, een van die boere van die Steytlerville-omgewing.

Die tweede rondte van die boorprojek het vandeesweek in die Willowmore-omgewing met 24 boere afgeskop. Daar is steeds soveel opwinding en hoop oor die verskil wat dit in hierdie boere se lewens gaan maak.