fbpx

Bek-en-klouseer: Saai gaan toep met naspeurbaarheidsfunksie toerus

 Die landbounetwerk vir familieboere, Saai, het vandag aangekondig dat hy sy veediefstaltoep, STIC, eersdaags sal uitbrei om naspeurbaarheid van vee se bewegings te prioritiseer. Dít kom na aanleiding van die departement van landbou, bosbou en visserye se aankondiging dat bek-en-klouseer in die Molemole-omgewing van Limpopo uitgebreek het. Weens die uitbreek van dié siekte het die departement ook aangekondig dat ’n tydelike verbod in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en Noordwes geplaas word op veilings van alle vee wat daarvoor vatbaar is.

“Die STIC-toep is aanvanklik geskep om gemeenskapstrukture te bemagtig deur hulle in staat te stel om veediefstal op ’n proaktiewe wyse te bekamp. In die lig van die uitbreek van bek-en-klouseer sal ons naspeurbaarheid ook so gou moontlik tot dié platform voeg,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Dié naspeurbaarheidstegnologie is uit China afkomstig en is gebruik om Afrikavarkgriep te bekamp nadat die uitbreek daarvan in dié land ongeveer die helfte van die land se varksôe uitgewis het. STIC, wat deur die African Farmers Network ontwikkel is, sal ook dieselfde protokolle as die Chinese naspeurbaarheidstelsel toepas. Hoewel STIC deurlopend ontwikkel word, kan familieboere reeds van dié toep gebruik maak deur by https://stocktheft.com/ te registreer.

Stuur jou naam na die Saai WhatsApp-groep by 066 071 6094 om op hoogte van die nuutste verwikkelinge rondom die toep te bly.