fbpx

Saai en AfriForum staan boer by met indien van strafregtelike klagtes oor beweerde silosertifikaatbedrog

AfriForum se privaatvervolgingseenheid en die familieboernetwerk Saai het vandag vir Langspruit Landgoed, ‘n familieonderneming in die Standerton-distrik, bygestaan met die lê van strafregtelike klagtes van bedrog teen die bestuur van Bloemhof-silo’s tydens die eerste kwartaal van 2020. Dit volg nadat Langspruit Landgoed verliese gely het as gevolg van beweerde silosertifikaatbedrog. Die klagtes is by die Bloemhof-polisiestasie gelê.

In ’n neutedop behels silosertifikaatbedrog dat silokomplekse meer silosertifikate uitreik as waarborge vir mielies as wat daar werklike mielies in die silo’s is. Silosertifikate word as waarborg aan die eienaars van die mielies gegee en kan verhandel word. Hierdie sertifikaat is veronderstel om drie dinge te waarborg:

  • Die kwaliteit van die mielies;
  • Die kwantiteit van die mielies;
  • Die ligging van die mielies.

Volgens Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, blyk dit dat al drie hierdie waarborge in dié geval deur die silobergingsfasiliteit misken is. “’n Fundamentele hoeksteen van die JSE se landbou-afgeleide mark is die integriteit van JSE-silo-ontvangste en ’n betroubare fisiese afleweringsproses. Wanneer ’n silobergingsfasiliteit ’n ontvangsbewys uitreik, moet die hele mark volkome vertroue en sekerheid hê dat die hoeveelheid en gehalte van die kommoditeit op die plek wat op die bewys aangedui word, geberg word en dat die houer van die bewys die aflewering van sy kommoditeit kan verkry – sonder enige vertraging. Dit is van kardinale belang vir die integriteit van die hele Suid-Afrikaanse graanmark dat silobergingsfasiliteite die JSE se vereistes gestand doen. Op ’n tydstip waar die nagevolge van COVID-19, die dreigement van onteiening sonder vergoeding en die inploffing van landboufinansieringstrukture die lewensbestaan van baie familieboere bedreig, kan ’n regverdige, doeltreffende en deursigtige mark baie help om ’n winsgewende toekoms vir die bedryf te verseker.”

Die landboumaatskappy Senwes moes verder verlede jaar ’n boete van R1,5 miljoen aan die JSE betaal juis omdat die Bloemhof-silokompleks wat tot verlede jaar nog deur Suidwes (wat later die jaar deur Senwes oorgeneem is) besit is ’n tekort van 17 035 ton mielies gehad het in vergelyking met die hoeveelheid WM1 graad mielies wat daar bestaan het volgens die silosertifikate en folio ontvangsbewyse wat uitgereik is. Die JSE-silokwitansies was opgestel deur Suidwes Landbou wat redelikerwys moes geweet het dat hulle nie in werklikheid daardie hoeveelheid WM1 graad mielies in die silokompleks beskikbaar het nie en dit dus nie op aanvraag aan sertifikaathouers by Bloemhof-silo’s sou kon lewer nie.

Langspruit het verder skade gely, aangesien mielies nie aan hulle in voldoende hoeveelhede en tempo gelewer kon word toe hulle dit vir hoër pryse sou kon verkoop nie. Volgens Chris Gouws, senior ondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, beteken dit ook dat Langspruit moes betaal vir stoorkostes van mielies wat nie bestaan het nie. “Dié beweerde silosertifikaatbedrog kom neer op ’n onwettige en doelbewuste wanvoorstelling aan sertifikaathouers. AfriForum se privaatvervolgingseenheid is juis gestig om toe te sien dat korporatiewe boelies aan die pen ry indien hulle oortree en daarom sal ons hierdie saak bly moniteer en saam met die polisie en vervolgingsgesag werk om toe te sien dat geregtigheid geskied.”