fbpx

Compensation to Zimbabwean farmers is still uncertain

As jy vra hoe dit nou in Zimbabwe gaan, is die boere se antwoord altyd dieselfde: “Dinge is moeilik, maar hierdie jaar gaan ons groot ommekeer kom!” Elke jaar. Dit is nou 23 jaar nadat Mugabe se Zanu PF begin het om wit boere brutaal van hulle plase af te jaag, en amper drie jaar nadat die Global Compensation Deed met landbou-organisasies geteken is. Daarvolgens het Zanu PF erken dat hy vergoeding aan die boere verskuldig is en hom tot ’n afbetalingsreëling verbind, maar nog niks het gerealiseer nie.

As verteenwoordiger van meer as 500 familieboere wat in Zimbabwe geboer het of steeds daar boer, het Saai begin om druk op die Zimbabwiese regering te verhoog. Op Maandag 6 Maart is ’n vergadering met ambassades in Pretoria gehou om groter bewussyn te skep van die lot van onteiende Zimbabwiese boere en om hulle op hoogte te bring van die Zimbabwiese regering se nuutste aanbiedinge om die boere te vergoed. Dit is opgevolg met ’n mediakonferensie waar ook die aanloop tot en huidige stand van regsaksie teen die Zimbabwiese en Suid-Afrikaanse regerings deur Willie Spies van Hurter Spies Ing. uiteengesit is.

Saai maak tans ’n dokumentêre program oor die onteienings en die lang stryd om billike vergoeding aan families wat sedert 2000 van hulle plase afgesit is. Die Zimbabwiese regering het die Global Compensation Deed in Julie 2020 vir die boere aangebied maar hulle nooit by die ooreenkoms gehou nie. ’n Nuwe aanbod behels betaling in staatseffekte wat eers oor 14 jaar verdiskonteerbaar is en die meeste van Saai se Zimbabwiese lede is nie daarvoor te vinde nie.

Daar word wel sporadies klein bedrae deur die Zimbabwiese regering aan die mees kwesbare ou boere betaal om hulle met agterstallige doktersfooie en medisynerekeninge te help. Ongelukkig word hierdie hulp misbruik as ’n pistool teen die kop van die breër boeregemeenskap met die dreigement dat dit tot ’n einde sal kom as titelaktehouers nie die nuwe aanbod wil aanvaar nie.

Saai stig nou ’n hulpfonds met die doel om die kwesbaarste boere uit ’n alternatiewe bron te help om te oorleef. Saai skep ook ’n beleggingsinstrument vir Zimbabwiese titelaktes wat gebaseer is op die hoop op billike vergoeding. Boere kan hulle titelaktes aan die beleggingsinstrument verkoop of dit vir eie voordeel daarin deponeer sodat die titelaktes en gepaardgaande eise ’n langer lewe as die boere self sal hê.