fbpx

Skole word in staat gestel om oor die landbouwaardeketting en selfstandigheid onderrig te gee

AfriForum en Saai het hande gevat met Kgosi Gaboilelwe Moroka van die Barolong Boo Seleka Tradisionele Gemeenskap van Thaba ’Nchu om skole in staat te stel om leerders van die landbouwaardeketting en selfstandigheid te leer. Sewe vrugtebome, waaronder appel-, granaat-, appelkoos-, perske- en vyebome is aan sewe skole toegeken en die geleentheid is gebruik om kinders te wys hoe vrugtebome geplant en versorg moet word. Die welvaartskeppingsmoontlikhede wat verband hou met vrugteproduksie, verwerking en verkoop van produkte is ook aan die leerders oorgedra.

“Ons het hierdie vrugteboomplant-marathon in Boomplantmaand en Erfenismaand aangepak en sewe bome by vyf skole op een dag geplant – dit is eerstens om aan te dui dat dit elke dag, 24 uur per dag, neem om na welvarendheid te streef. As ons ’n volhoubare, selfstandige en welvarende nasie wil word, moet ons die toekomstige geslagte leer om hard te werk en ook deur hierdie inisiatief bewusmaking skep oor die belangrikheid van vergroening, die belangrikheid van landbou as ’n bron van voeding en ook as ’n bron van lewe, om self-onderhoudend en selfstandig te wees  en die ekonomie wat uit landbou kom – maar ook om ons jongmense te leer om dit wat aan hulle behoort te koester en te versorg deur na die bome om te sien sodat hulle die vrug van hul arbeid kan geniet,” sê Kgosi Gabo Moroka, kgosi van die Barolong Boo Seleka Tradisionele Gemeenskap.

“Die erkennings-en-samewerkingsverdrag wat AfriForum en die Barolong Boo Seleka Tradisionele Gemeenskap vroeër vandeesmaand gesluit het, bepaal dat daar samewerking sal wees in landbou-ontwikkeling en die bevordering van gemeenskapselfstandigheid en selfbestuur. Om skole die geleentheid te bied om kinders te leer oor vrugteproduksie en om verantwoordelikheid vir die plant en versorging van bome te neem, is vir ons ’n volgende stap in die praktiese implementering van hierdie verdrag,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

“As ’n netwerk vir familieboere is dit vir Saai belangrik dat mense en veral kinders verstaan dat die waardeketting wat verseker dat ons almal kos het om te eet, by primêre produksie begin. Dit is ook belangrik vir kinders om te weet van die welvaartskeppingsmoontlikhede wat boerdery bied. Dit is ’n geleentheid om skole te bemagtig om hierdie kennis aan kinders oor te dra, en daarom is dit vir Saai ’n voorreg om betrokke te wees,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

AfriForum en Saai sal die kantoor van Kgosi Gaboilelwe Moroka bystaan om die skole te ondersteun met die versorging van die bome asook die toekomstige uitbreiding van hierdie inisiatief na ander skole in die Barolong Boo Seleka Koninkryk.