fbpx

Saai verteenwoordig SA boere by COP27

Die familieboernetwerk Saai sal ’n sentrale rol speel in die onderhandelinge oor klimaatskwessies tydens die COP27-klimaatsberaad wat van 5 tot 27 November in Sharm El-Sheikh, Egipte, plaasvind. Met sy fokus op landbou en voedselsisteme, is dit die eerste Klimaatsveranderingskonferensie (“Climate Change Conference” (COP)) wat sedert 2011 in Afrika plaasvind en meer as 70 landbouleiers van oral in die wêreld is genooi om die geleentheid by te woon.

As verteenwoordiger van Suid-Afrikaanse boere by die Wêreldlandbou-organisasie sal Saai ’n leidende rol in die beleidsgesprekke en onderhandelinge oor landboukwessies speel. Die stem van Suid-Afrikaanse produsente sal oor die volgende twee weke in meer as 30 vergaderings gehoor word oor kwessies soos aanpasbaarheid, metaangasvrystelling by herkouers, belastings en tariewe op vleis, wol en veen, koolstofkrediete, nuwe produksietegnologie en naspeurbaarheid.

Volgens dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, is COP27 die eerste COP wat spesifiek op voedselsisteme gaan fokus en is dit ’n prioriteit om boere in die middelpunt van beleidsvorming oor klimaatskwessies te posisioneer. “Vir boere is dit waarskynlik die belangrikste COP ooit,” sê hy.

De Jager dien ook as voorsitter van die Food, Agriculture and Natural Resources Policy Analysis Network (FANRPAN), ’n niewinsgewende netwerk van Afrika-regerings en steunbasisse wat diplomatieke status in Suid-Afrika geniet en sal ook die FANRPAN-afvaardiging na COP27 lei.

Volgens Francois Rossouw, hoof- uitvoerende beampte (CEO) van Saai, het die Karoo die afgelope agt jaar die ergste droogte ooit beleef. Saam met die ongekende vloede in KwaZulu-Natal het dit opnuut vir Suid-Afrikaanse landbou gewys hoe uitgelewer aan, en kwesbaar vir klimaatskommelings, boere is. “Dit is vir ons as Suid-Afrikaanse boere van kardinale belang dat ons ’n plek rondom die onderhandelingstafel het sodat ons die boere se belange daar kan stel en verdedig.”

Saai en Akademia beoog om vroeg in 2023 saam ’n klimaatsberaad te organiseer en eg Suid-Afrikaanse navorsing sal saam met die inhoud van COP27 daar bespreek word.