Saai veroordeel onsinnige, wrede moord op Vrystaatse plaasbestuurder

Die familieboerorganisasie Saai veroordeel die onsinnige, wrede moord op die 21-jarige Vrystaatse plaasbestuurder Brendin Horner buite Paul Roux. Dit het nie net dwarsoor Suid-Afrika nie, maar selfs in Europa en Noord-Amerika opslae gemaak. Namate meer Engelse media oor die aard en omvang van plaasmoorde berig, word al ernstiger vrae gevra oor die humanitêre krisis, en die regering se hantering daarvan.

Saai neem byna weekliks aan internasionale digitale konferensies oor plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding deel, en het dit verlede jaar in Rome by die loodsing van die VN se Dekade vir Familieboere as een van die knellendste vraagstukke in landbou in die suidelike halfrond beklemtoon. Saai is daarom dankbaar dat een van ons netwerkvennote, AfriForum, ná nege jaar van bewusmakingsveldtogte oor plaasmoorde pas daarin geslaag het om as ’n belanghebbende nieregeringsorganisasie deur die VN erken te word en toegang tot debatte te kry. Saai sal nou met AfriForum saamwerk om die stem van familieboere van alle rasse op internasionale platforms te laat hoor waar die regering en die staat hulle versaak.

Sedert president Cyril Ramaphosa in September 2018 by die VN se Algemene Vergadering in New York ontken het dat plaasmoorde in Suid-Afrika ’n probleem is, het blootstelling van die grusame voorvalle in buitelandse media verbasend toegeneem. Saai beplan ’n tweede internasionale toer om met regerings in die noordelike halfrond te praat oor strategieë om die ANC te dwing om die probleem te erken en iets daaromtrent te doen.

Die ANC het die klimaat geskep waarin wegholstatistieke vir plaasaanvalle (gemiddeld elke tweede dag sedert 2000), en plaasmoorde (gemiddeld elke vyfde dag sedert 2000) ’n reuse- ekonomiese en sosio-maatskaplike krisis in die platteland te weeg gebring het. Dit was die ANC wat met “Kill the farmer, kill the boer” begin het; dit nog nooit verwerp of afgesweer het nie, en nou in geen posisie is om die EFF daaroor vas te vat nie. Dis ook die ANC wat die probleem ontken en in die parlementêre debat oor plaasmoorde die mees onsensitiewe, aanhitsende en skokkende tussenwerpsels daaroor geskree het. Dit is wat aan die internasionale gemeenskap blootgelê moet word.

Bheki Cele, minister van polisie, se tirade in Normandien, KZN, waar hy ná die ewe grusame moorde op die Rafferty-egpaar op hulle familieplaas, die gemeenskap op ’n rassegrondslag verder probeer polariseer het, toon dat hy deel van die probleem is, en daarom geensins die hoop vir ’n oplossing kan wees nie. Namate kriminaliteit, korrupsie en politieke kaping in die polisie deur die Zondo-kommissie en moordondersoeke soos dié op wyle lt.kol. Charl Kinnear ontbloot word, is daar ’n toenemende begrip vir die kwesbaarheid en selfaangewesenheid van Suid-Afrika se boeregemeenskap.

In plaas daarvan om ’n dinamiese landelike veiligheidsplan in vennootskap met plattelandse gemeenskappe en georganiseerde landbou van stapel te stuur, dwing die polisie boere om vir ’n onbeperkte tyd hul wapens in die administratiewe proses van herlisensiëring in te handig, en dit laat hulle juis meer kwesbaar in ’n tyd waarin hulle dit die minste kan bekostig.

Die verskonings dat boere self vir plaasmoorde verantwoordelik is omdat hulle hul werkers mishandel, is nog nooit deur voorvalle, feite of navorsing ondersteun nie, en is tekenend van die ANC se aandadigheid in die skep van ’n klimaat waarin plaasmoorde gedy. Eweneens is die vingerwysing na Zimbabwiërs en plaaswerkers uit buurlande ’n goedkoop manier om hulle verantwoordelikheid te ontduik, en nie op feite of verifieerbare navorsing gegrond nie.

Om die krisis van plaasmoorde op te los, moet die ANC eerstens die probleem erken en prioritiseer. Dan moet hulle tegelykertyd ’n spesiale multidepartementele taakspan van veiligheidsamptenare wat bo verdenking is op die been bring om in vennootskap met burgerlike strukture en privaat sekuriteitsmaatskappye ’n landelike veiligheidsplan te implementeer, en onafhanklike navorsing laat doen om die dryfvere, tendense en ongesonde beleidsklimaat wetenskaplik te ondersoek.

Daar is te veel politieke partye en groepe soos die EFF, BLF en faksies binne die ANC wat vir plaasmoorde vra, en dit aanhits. Die marteling en brutaliteit van die moorde, soos dié op die jong Brendin Horner, is ongeëwenaard, en tekenend van haatmisdaad. Dat die veiligheidsdienste ook nog nooit ’n vinger verroer het nie teen die tienduisende mense wat plaasmoorde op sosiale media goedkeur, spreek ook boekdele. Dit maak dat plaasmoorde nie bloot ’n verlengstuk van ’n algemene klimaat van wetteloosheid is nie.

Suid-Afrika se landbougemeenskap was nog nooit so gefrustreerd en teleurgesteld in die staat soos nou nie. Ter wille van landelike stabiliteit, moet die ANC sy standpunte oor en benadering tot plaasmoorde dringend in heroorweging neem.

Gemoedere onder boere loop hoog. Saai  sal Dinsdag saam met gemeenskapslede voor die Landdroshof in Senekal hul simpatie met die Horner-gesin kom betuig.