fbpx

Saai veroordeel die voortgesette veediefstal en -slagting probleem, eis dringende aksie

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) het van SA Red Meat (SARMC) verneem dat daar onlangs nog ’n wrede veeslagting in die Vrystaatse Goudveld-area plaasgevind het. In die vroeë oggendure van 11 September 2024 is ’n boer van Ventersburg/Virginia omgewing se beeste genadeloos doodgemaak en afgeslag. ’n Ontstellende video van die grusame voorval is versprei en toon hoe die diere op die oop veld geslag is.

Dit volg kort ná soortgelyke aanvalle op 24 en 30 Augustus 2024, wat vermoedelik deur dieselfde groep uitgevoer is. Hierdie insidente het plaasgevind op verskeie plase in die Goudveld-area, en sake is by Hennenman se polisiestasie geopen. Daar word vermoed dat die groot hoeveelhede vleis wat op hierdie wyse verkry word, bestem is vir die Zama Zama-mark. Die teenwoordigheid van vuurwapens in die hande van hierdie misdaadbendes is ’n moontlikheid wat nie uitgesluit kan word nie.

Hierdie slagtings is nie net ’n bedreiging vir die veiligheid van familieboere en hul werknemers nie, maar ook vir volhoubare boerdery. Dit het ’n rampspoedige ekonomiese impak op die plattelandse gemeenskappe wat reeds onder groot druk verkeer. “Die misdadigers moet met wortel en tak uitgeroei word, en die kriminele markte waarheen die vleis vloei, moet vernietig word. Slegs wanneer die SAPD effektief teen die Zama Zama-mark optree, sal die strooptogte beëindig kan word,” sê dr. JJ de Villiers, besturende direkteur van SA Red Meat.

Saai dring daarop aan dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) optree teen die Zama Zama-bendes wat landwyd, maar veral in die Vrystaatse Goudveld, aktief is. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sluit af: “Hierdie wreedaardige voorvalle van veeslagtings is ’n uitvloeisel van die toenemende veediefstal probleem in Suid-Afrika en Saai is besig met aksieplanne om dit stop te sit.”