fbpx

Saai veroordeel COVID-hulp aan slegs swart wynboere

Die familieboerorganisasie Saai is verstom oor en veroordeel die blatante rassediskriminasie in die Wes-Kaapse Provinsiale Regering se COVID-19-ramphulp wat slegs aan swart wynboere toegeken word. Dié ramphulp word deur die Kaapse agentskap vir volhoubare geïntegreerde ontwikkeling in die platteland (CASIDRA) geadministreer en Saai beplan ’n multidimensionele veldtog om nierassige beginsels op alle vlakke van die staatsdiens af te dwing.

Só ’n veldtog kan ’n hofgeding, die insameling van ’n miljoen handtekeninge , politieke druk binne en buite die parlement, openbare vrae, ’n bewusmakingsprogram en ’n buitelandse veldtog insluit.

In die regering se irrasionele COVID-19-regulasies wat die wynbedryf vir 20 weke lamgelê het, honderde familieboerderye in ’n finansiële krisis gedompel het en nog meer plaaswerkers sonder ’n werk en inkomste gelaat het, is daar nie op grond van kleur gediskrimineer nie. Almal moes daaronder ly al was dit – soos die hof in die saak teen die soortgelyke tabakverbod bevind het – totaal ongrondwetlik.

CASIDRA en die Wes-Kaapse regering is, soos die ANC met sy SEB-beleid, baie vaag oor wie “swart” is. Die meeste begunstigdes van grondhervorming in die Wes-Kaap is bruin mense van gemengde herkoms. “Vir ’n hof om persentasies van afkoms as kriterium vir hulp vas te stel en dit eties, moreel en grondwetlik te regverdig, sal van Suid-Afrika in die internasionale arena opnuut ’n karikatuur maak, en dit is burgerlike organisasies se plig om dit te stuit,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Saai se lede is familieboere van alle groottes, ouderdomme, rasse, taalgroepe en vlakke van ervaring. Aan die hand van samewerking, eensgesindheid en vooruitgang, moet daar ’n verbintenis wees tot ’n nierassige samelewing waar die kleur van ’n boer se vel, die samestelling van sy genetiese herkoms of sy taal en kultuurerfenis hom of haar nie in ’n eerste- of tweedeklasburgerskap indeel nie.

Rampe soos COVID-19, droogte en brande diskrimineer nie op grond van herkoms of velkleur nie. Dit is onvergeeflik vir die regering om dit te doen in sy reaksie op rampe.

Saai bly daartoe verbind om die grondwetlike fondasie van nierassigheid na te jaag en daarvoor te baklei op elke vlak, ongeag wie of watter party daardeur geraak word.