fbpx

Saai het in Januarie 2020 Hongarye en Duitsland besoek as deel van ons internasionale veldtog teen plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding. Saai het gedurende hierdie besoek verskeie vergaderings gehad met ministers en parlementslede van dié lande en ook ons Familieboerresolusie teen plaasmoorde oorhandig vir oorweging.

 

 

Saai het in Februarie klagtes van tenderbedrog ingedien teen amptenare van die GEPF en klagtes van diefstal ingedien teen ’n veediefstalsindikaat in die Zastron-omgewing. Beide hierdie sake word tans ondersoek.

 

Saai het tydens die inperking verskeie aksies geloods om die talle landboubedrywe te beskerm teen die ekonomiese skade van die inperkingsregulasies en om te probeer verhoed dat dié besighede daaronder ly.

 

As die tweede been van ons inisiatief om wynboere deur die inperking te help, het Saai “Die Wynboer” geloods. Dié webblad verkoop familieboerwyne op ’n aanlyn platform teen kelderdeurpryse aan verbruikers van regoor Suid-Afrika. Hierdie platform gee aan elke verbruiker toegang tot wyne wat nie noodwendig in hulle plaaslike winkels beskikbaar is nie en stel die wynboer in staat om sy wyn direk aan die verbruiker te verkoop.

 

Saai het in Julie 2020, ná die afskaffing van die verbod op interprovinsiale reis, die “Gaan Jag!”-veldtog geloods om plaaslike jagters aan te moedig om wildboere tydens die jagseisoen te ondersteun. Die aanvanklike plaaslike en internasionale reisverbod het die bedryf ongeveer R11 miljard gekos.

 

Saai was betrokke by die boerevereniging in Senekal. Ná die moord op Brendin Horner was Saai ook daar om die distrik se boere tydens ’n baie moeilike en hartseer tyd by te staan, toe die wêreld se aandag op dié boeregemeenskap gevestig was.

 

Saai het volstruisboere in Oudtshoorn bygestaan en ’n projek geloods waartydens ons daar besoek gaan aflê het om uit te vind hoe die droogte en COVID-19 die volstruisbedryf geraak het. Ons het ook vragte voer afgelewer by boere wat deur die droogte benadeel is. Gedurende die besoek het ons ’n dokumentêr gemaak ter bewusmaking van die waarde van die volstruisbedryf en om ondersteuning vir dié eg Suid-Afrikaanse produkte te kry. Ons het ook op 1 Desember 2020 ’n volstruisdag by Buffelsfontein Beesboerdery gehou waar ons verskeie volstruisgeregte bedien het en ook volstruisprodukte ten toon gestel het.

 

Saai het in November 2020 ’n projek begin om die belangrikheid van klein dorpies te beklemtoon en sodoende ons platteland ’n hupstoot te gee. Die eerste klein dorpie wat ons besoek het, was Vanwyksvlei – hierdie dorp is vasgevang in ’n nimmereindigende droogte, en ons doel met die besoek was om ’n brug van hulp te bou tussen die droogtetydperk tot die volgende reën weer val. Saai, saam met ander netwerkvennote, het gereël dat daar sewe vragte voer afgelaai word. Ons het met lede van die gemeenskap gesprekke gevoer en saam aan die pad vorentoe beplan. Voorts het ons ’n kort video gemaak om opnuut bewustheid onder Suid-Afrikaners te skep oor die belangrikheid van klein dorpies soos Vanwyksvlei.

 

Saai het ook verskeie skole en landbouskole besoek as deel van ons Jongboer-landbouvereniging wat in 2021 geloods sal word.

 

 

Saai, as deel van die Manna vir die Boere-inisiatief, het hulp gebied aan gemeenskappe wat deur die verwoestende brande in die Vrystaat benadeel is. Manna vir die Boere het voortgegaan met droogtehulp ná die brande en is steeds as groep besig om droogtegeteisterde gemeenskappe by te staan. Met die wonderlike ondersteuning van baie skenkers kon ons daarin slaag om 232 vragte voer na die Vrystaat, 33 vragte na Warrenton en 26 vragte na Noordwes te stuur om verligting te bied ná die brande. Droogtehulp in die vorm van 45 vragte voer is reeds sedert November in die Noord- en Oos-Kaap afgelaai.

 

Saai het groot planne beraam saam met netwerkvennote soos Wiesenhof, Grondpad Vellies en Bosveld Kudu wat elkeen ’n unieke produk gaan verkoop ten bate van Saai se projekte. Hierdie produkte sal beskikbaar wees by die onderskeie restaurante en aanlyn winkels.