fbpx

Saai gekant teen daggawet

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai), ’n organisasie wat die regte en belange van familieboere beskerm, het dokumente ingedien om beswaar te maak teen elemente van die Wetsontwerp op die Private Gebruik van Dagga. Saai bevorder ’n gewettigde en noukeurig gereguleerde dagga-industrie wat ekonomiese groei ’n hupstoot gee terwyl skade beperk word.

In September 2018 het die Konstitusionele Hof die parlement opdrag gegee om “grondwetlike gebreke” binne 24 maande reg te stel, maar 44 maande later is nog steeds niks gedoen nie. Die dagga-wetsontwerp maak sake nog erger deur feitlik alle kommersiële aktiwiteite te kriminaliseer en terselfdertyd algemene “kommersiële aktiwiteite” wat met kannabis verband hou, “te magtig”. Hierdie teenstrydigheid skep verwarring wat die oppergesag van die reg ondermyn.

Terwyl die private gebruik, verbruik en verbouing van dagga vir ontspanning deur volwassenes gewettig is ingevolge die reg op privaatheid, word feitlik alle private handel in dagga deur die dagga-wetsontwerp verbied. Dit is irrasioneel. As die publiek toegelaat word om varkvleis te eet, moet die boer toegelaat word om spek te verkoop.

Daarbenewens sal die dagga-wetsontwerp die gereelde misbruik van dagga in groot hoeveelhede laat toeneem eerder as om die aankoop daarvan in klein hoeveelhede toe te laat. Die Konstitusionele Hof het gewys op mediese bewyse dat dit veilig is vir volwassenes om af en toe ’n “daggazol” te rook, maar dat dit gevaarlik is om dit gereeld en in oormaat te doen. Tog dwing die dagga-wetsontwerp iemand wat net een “daggazol” per maand wil rook om ’n hele plant te kweek wat 500 “zolle” per oes kan lewer. Dit is so irrasioneel as wat dit sou wees om alkoholverbruik te wettig, maar slegs indien individue hul eie “mampoer” in 100-liter-vate brou.

Die absurde, teenstrydige regulasies moet in die konteks van Suid-Afrikaners se twee grootste uitdagings – werkloosheid en korrupsie – verstaan word.

Hoe meer teenstrydighede daar in die wet is, hoe meer diskresionêre magte word aan amptenare gegee; hoe stadiger met eenvoudige wetgewing gevorder word, hoe meer geleentheid is daar vir staatsamptenare om besighede af te pers om lisensies te bekom en vir besighede om die verkryging van lisensies te omseil. Dit is nie aanvaarbaar nie.

Om dit te vermy, moet die dagga-wetsontwerp sonder versuim gewysig word om wettige handel toe te laat. Amptenare moet geen sê daaroor hê nie, en laboratoriums moet onafhanklik deur produsente gebruik word om produkte vir toksisiteit te toets.

’n Groot voordeel van eenvoudige wetgewing is dat hulpbronne wat tans vermors word op die polisiëring van volwassenes wat een “daggazol” koop, aangewend kan word om ernstige misdade te voorkom en om te keer dat dagga in die hande van minderjariges val.

Met meer as 12 miljoen werklose volwassenes, kan die ry Suid-Afrikaanse werkloses van Kaapstad tot Kaïro strek. Werkloosheid is veral problematies in landelike gebiede. Die regering se belofte van 130 000 wettige werksgeleenthede in die plaaslike daggabedryf word waarskynlik oorskat. Maar as die dagga-wetsontwerp volgens Saai se voorstel gewysig word, kan tienduisende werksgeleenthede geskep word, veral deur familieboere en ander tradisionele produsente. Werkskepping moet ‘n prioriteit wees.

Net soos met tabak en alkohol, wil nie almal dagga gebruik nie. Maar sodra verbruik gedekriminaliseer is, moet die volgende stap wees om die mark te laat werk. Die wet moet boere toelaat om grond, saad, sonskyn en arbeid te kombineer om ’n produk te verskaf wat sommige volwassenes privaat en verantwoordelik wil geniet. Saai beoog om dié punt vinnig te bereik.