fbpx

Regering van nasionale eenheid moet gaping help oorbrug wanneer rampe plase tref

Die landbousektor in Suid-Afrika is reeds geruime tyd lamgelê deur onvoldoende en onsamehangende beleide rakende ramphulp vir boere. Tot so ’n mate dat boere wie se plase die slagoffer van brande is soos dié wat onlangs duisende hektaar weiveld in Noordwes, Oos-Vrystaat, Gauteng en groot dele van die Oos-Kaap verwoes het, meer dikwels as nie, min tot geen ondersteuning van die regering af kry nie. Terwyl waardevolle plantasies in Limpopo en Mpumalanga verlore gegaan het en boorde onherstelbare skade gely het, moet boere klaarkom met die geld en goedere wat burgerlike organisasies as ramphulp kan insamel.

Hierdie rampe, en die daaropvolgende gebrek aan verligting van die regering, sluit selfs diegene in wat begunstigdes van grondhervorming was. Dié boere sukkel om kop bo water te hou ná die groot skade wat deur die brande aangerig is. Baie boere se heinings is vernietig, vee en wild het omgekom en in die Laeveld het boere skure, voertuie en toerusting in die verwoestende wegholbrande verloor.

Die onlangse swartryp op aartappels in Limpopo en die vloede in die Wes-Kaap, wat oeste, landerye, wingerde en boorde verdrink het, het boere met geen vermoë gelaat om die finansiële gaping te oorbrug tussen hierdie natuurrampe en dit wat nodig is om weer op die been te kom nie.

“Boere moet lenings terugbetaal vir die saad, kunsmis en diesel wat gebruik en vernietig is. En behalwe om hierdie lenings terug te betaal, moet hulle weer in ’n posisie kom waar hulle met die volgende oes kan begin, aangesien die plantseisoen op hande is. Maar sonder die broodnodige verligting wat regeringsgesteunde rampskemas kan verleen, het baie boere net een opsie – ’n massa-uittog uit boerdery,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

“Die verlies van groot groepe boere uit sekere gebiede sal ’n wesenlike impak op voedselsekerheid in klein gemeenskappe hê en die besighede wat in daardie gemeenskappe bedrywig is. Dit sal ’n impak op die plaaslike ekonomie hê en die werksgeleenthede in die omgewing. Dit is hoekom ’n betroubare beleid oor ramphulp vir boere van kardinale belang is vir die landbousektor. In Suid-Afrika is ramphulp egter ’n luuksheid, want die meerderheid van hierdie soort hulp word gedryf deur private inisiatiewe eerder as die regering.”

Die grootste ramphulpskema in Suid-Afrika is Manna vir die Boere, wat bestaan ​​uit verskeie organisasies wat hul hulpbronne saam sit en koördineer in ’n poging om soveel boere moontlik in staat te stel om aan te hou boer. Dié organisasies bestaan uit Saai, Agri NW, AfriForum, Gift of the Givers, Caring Daisies, Save the Sheep, Boere in Nood, Droogtehulp en TLU SA. Manna vir die Boere het die vermoë om geskenkte goedere, voer en vee te vervoer na die gebiede wat dit die nodigste het. Maar die impak van die onlangse rampe kon aansienlik minder gewees het as die regering broodnodige finansiële bystand verleen het. In ’n provinsie soos die Wes-Kaap is daar baie deur die provinsiale regering gedoen om boere op hul plase te probeer hou en hul boerderye weer op die been te kry. Dit het die deurslaggewende verskil gemaak. Daar is plase op die grens van die Wes-Kaap wat gelukkig was om deur die hulp van die provinsiale regering te oorleef, terwyl hul bure in ’n ander provinsie dit nie kon oorleef nie.

“Die vorming en vroeë suksesse van die regering van nasionale eenheid in Suid-Afrika het baie hoop gebring dat broodnodige beleide ten opsigte van boerdery en ramphulp beter aandag sal geniet,” sê De Jager. “’n Staatsondersteunde insetvervangingsversekeringskema wat beide klein- en grootskaalse boere teen finansiële verliese beskerm as noodsaaklikhede, soos saad, kunsmis of plaagdoders, beskadig of vernietig word, kan ver gaan om die leemte in die nasionale strategie vir ramphulp vir boere aan te spreek.

“Maar ’n groot deel van die oplossing lê in openbare en private vennootskappe, en beleidmakers sal wys wees om nie die wiel te herontwerp nie, maar eerder kragte saam te snoer met organisasies soos Manna vir die Boere wat die werk doen wat die regering tot nou toe versuim het om te doen. Deur bestaande private inisiatiewe te betrek by die vorming van beleide en die implementering van ramphulp, kan seldsame hulpbronne soveel verder strek.”