fbpx

Nuwe organisasie vir landboustudente op Stellenbosch

Stellenbosch Landbou, ’n onafhanklike studenteorganisasie, is vandag by La Boucher op die Slaley Wynlandgoed bekendgestel. Studente van die Universiteit van Stellenbosch, Elsenburg-landboukollege en omliggende tersiêre instellings wat belangstel in landbou, die platteland en familiegebaseerde ondernemings kan aansluit by Stellenbosch Landbou.

Die organisasie sal inskakel by die familieboerenetwerk Saai se studentevleuel, waar verskeie ander studentestrukture soos dié in Pretoria en Bloemfontein ook inskakel. Buiten die skakeling tussen hierdie studenteorganisasies word daar beding vir studiegeleenthede in die buiteland, beurse, werksgeleenthede en sosiale interaksies wat vry is van die erg regulatoriese omgewing van staats instellings.

’n Bus vol Stellenbosch-studente het reeds verlede week, as gaste van Graan-SA, Kaap Nampo bygewoon om met borge, hoë-tegnologie maatskappye en bio-tegnologie navorsers te skakel.

“Stellenbosch Landbou is ’n leierskapontwikkelingsplatform vir studente deur studente, wat buite die struktuur en finansieringssambreel van die universiteit of landboukollege staan. Beide die sosiale aktiwiteite en landbou-inhoud van skakel-aksies het ’n landelike fokus, en is daarop afgestem om ’n ryker studente-ervaring te skep,” sê Meent Borcherds, die voorsitter van Stellenbosch Landbou.

Francois Rossouw, hoof uitvoerende beampte van Saai, sê dat Stellenbosch Landbou ’n groot leemte vul in die netwerk van Suid-Afrikaanse organisasies vir landboustudente, en ’n belangrike stem in die nasionale debatte tussen toekomstige plattelandse leiers is. Dit is waarom ons vir ons studentelede geleenthede skep om internasionale platforms soos die Wêreld Landbou-organisasie se Gimnasium, die COP Klimaatsberaad, die Kommissie vir Voedselsekerheid en die jeugprogramme van die Voedsel- en Landbou-organisasie van die VN deel te neem.

Stellenbosch Landbou hoop om met die Fakulteit van Landbouwetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch en hulle studenteorganisasies saam te werk, asook met Elsenburg.