fbpx

Nuwe geleenthede wink vir landbou, sê Saai oor nuwe kabinet

Saai verwelkom die aanstelling van John Steenhuisen as minister van Landbou en voer aan dat ’n gees van opwinding en verwagting reeds in die landboubedryf merkbaar is in reaksie op dié aanstelling. Dié familieboernetwerk is hoopvol dat die nuwe administrasie ook opwindende nuwe geleenthede vir boere sal inhou.

Die winsgewendheid en volhoubaarheid van boerdery, en veral mededingendheid op internasionale markte, is in ’n groot mate direk afhanklik van ’n landbouvriendelike beleidsomgewing en doeltreffende dienslewering.

Volgens Saai bring Steenhuisen se aanstelling die vooruitsig van verhoogde doeltreffendheid in die Departement van Landbou wat onder meer tot die voordeel van kommersiële landbou sal strek. Sy aanstelling skep hoop dat die eng ideologiese klem op ras en partypolitieke lojaliteit wat aanstellings, beleid en uitsette van die Departement van Landbou vir dekades gekenmerk het, nou iets van die verlede sal wees.

Die oordadige klem op transformasie in die landboumeesterplan, terwyl winsgewendheid, volhoubaarheid en doeltreffendheid glad nie eens genoem word nie, sal vroeg reeds met die oog op aanpassings met die minister opgeneem word. ’n Meer inklusiewe meesterplan – wat wins en volhoubaarheid bo rasseteikens stel – kan ’n goeie fondasie vir ’n nuwe era in landbou lê.

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, voer aan dat verskeie knelpunte in die landbousektor die nuwe minister se dringende aandag sal vereis. “Die dierebedrywe is onder ongekende druk en elke veeboer is bekommerd oor die toestand van dieregesondheid en die rol wat Onderstepoort en die departement se ondoeltreffendheid daarin speel. Dit sal die minister baat om so gou as moontlik ’n inklusiewe werkgroepsessie met veeboere te hê om die leemtes en geleenthede vir herstel, ontwikkeling en prestasie te identifiseer en meer as net die ANC se tradisionele napraters daarby te betrek,” verduidelik De Jager.

Die ministeries van Handel, Nywerheid en Mededinging, Omgewingsake, Vervoer, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, asook Water en Sanitasie, is ook uiters belangrik vir die sukses van landbou en daarom benadruk Saai ook die dringendheid aan ingrypende veranderinge in dié departemente.

“Die regruk van infrastruktuur soos spoorlyne, stasies en hawens is kwessies wat eerste aangepak kan word en op die kort termyn reeds ’n groot verskil vir boere kan maak. Barbara Creecy, die nuwe minister van Vervoer, sal egter met groter doelgerigtheid die taak moet aanpak as wat sy met Omgewingsake gedoen het,” sê De Jager.

Saai het intussen onderneem om saam met enersdenkende netwerkvennote, wat die toepassing van vereistes vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) by familieboerderye verwerp, die stryd teen dié beleid met die nuutaangestelde minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, voort te sit. Volgens De Jager skuld Tau aan familieboere ’n bloudruk van hoe SEB in ’n gesin toegepas kan word “sonder om in ’n morele moeras vas te val”.

Eweneens bring die aanstelling van Mzwanele Nyhontso, as minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, nie ’n einde aan Saai se reeks hofgedinge oor die openbaarmaking van die lys van uitstaande grondeise nie, maar sal beide die nuwe en die vorige ministers steeds daarvoor verantwoordelik gehou word. Die saak wat Johannes Bezuidenhout en sy medebegunstigdes van die staat se herverdelingsprogram in Beaufort-Wes vandeesweek teen die vorige minister en senior amptenare van haar departement gewen het, is een van tientalle soortgelyke gevalle waar kaderbevoordeling die skep van ’n klas van winsgewende swart boere laat ontspoor. Saai se sake om ook swart familieboere teen staatsvergrype te beskerm, word bloot nou op ’n nuwe minister ook beteken.

By Omgewingsake kan die jarelange stryd tussen die belange van wild in bewaringsgebiede en wild wat geteel, geboer en gekommersialiseer is, waarskynlik nou tot ’n punt kom. Die wildbedryf, wat 20% van Suid Afrika se plaasoppervlakte benut, was lank die slagoffer van swak beleidsbesluite en die stiefkind van die departement, alhoewel dit die mees kompeterende in die wêreld is. ’n Gesprek tussen minister Dion George en georganiseerde landbou oor die groeigeleenthede in die wild- en natuurbedrywe is derhalwe van kardinale belang.

“Ten spyte van die moontlikhede wat nou vir die bedryf wink, verstaan boere steeds dat ’n regering van nasionale eenheid ’n swakker regeringsvorm is en is daarom gereed om steeds baie van die staat se funksies self te vervul. Dis egter moeilik om die staat se werk te doen sonder ’n staat se inkomste. Daarom sal beter bestuur en oorsig in sleuteldepartemente groot verligting kan bring,” sluit De Jager af.