Landboumeesterplan verraai boere

Saai is bitter teleurgesteld in die slonswerk wat as n “landboumeesterplan” opgedis word, en nog meer in die vieringe van die ondertekening daarvan deur organisasies wat veronderstel is om na boere se belange om te sien. Die plan voldoen nie aan die minimum vereistes van wetenskaplikheid, billikheid, inklusiwiteit of duidelikheid nie en is daarom tot mislukking gedoem.

Die landbousektor verdien ’n meer doeltreffende meesterplan wat alle belanghebbendes by die opstel daarvan betrek en geen belangegroep uitskuif sodat hulle verloorders word nie. Dit moet deur kundigheid en behoorlike prosesse onderlê wees en in eerlike en duidelike taal uiteengesit word.

Daar is drie fundamentele gebreke in die meesterplan wat Donderdag in die parlement onderteken is:

  • Dit is in geheel geskoei op die ANC se eng ideologiese uitgangspunt oor grondeienaarskap wat lei tot verhoogde rassespanning. Die term “transformasie” is bloot ’n versuikering van hul verwronge historiese perspektief en romantisering van hul uitgediende sosialistiese idee van herverdeling.
  • Dit is ’n waardekettinggedrewe plan waarin die verwerkers, verpakkers, verspreiders en handelaars midde-in die beoogde aksie staan en nie die boere as primêre produseerders nie.
  • Nêrens in die plan word die belange en aspirasies van die huidige geslag kommersiële familieboere verwoord nie; geen erkenning word gegee aan hulle rol om voedselsekerheid en landbou-uitvoere te anker nie, en daar is geen verwysing na die noodsaaklikheid daarvan dat hulle winsgewend en volhoubaar moet kan boer nie. Saai is ontsteld dat goed gevestigde landbou-organisasies ’n dokument afgeteken het waarin die boere se belange nie duidelik beskerm word nie.

Die feit dat die opstellers van die plan meer erkenning aan die insette van vakbonde, aktivistiese NRO’s en onbekende akademici as aan landbou-organisasies gee, spreek boekdele.

Die transformasiemotief domineer elke paragraaf, elke doelwit, pilaar en fokuspunt van die meesterplan, asof transformasie al is waaroor landbou gaan. Tog word dit nêrens in die dokument duidelik gestel wat met transformasie bedoel word nie. Die meeste klein- en mediumgrootte boere vermoed uit die ervaring van die afgelope 20 jaar dat dit n bedekte manier is om te sê dat die groei van die sektor en nuwe geleenthede eksklussief tot die voordeel van swartmense mag wees, en verkieslik polities goed gekonnekteerde kaders moet verryk.

Saai is kwaadwilliglik by die opstel en bespreking van die meesterplan uitgesluit. Daar was vir Saai geen geleentheid om enige insette te lewer nie. Saai sou onder geen omstandighede die gepubliseerde teks afgeteken het nie, daarom daag ons die opstellers van die plan, die minister en haar departement en die ondertekenaars uit om vergelykende lyste te publiseer van die afgelope 28 jaar se suksesse en mislukkings van landboutransformasie. Namens sy 10 000 lede daag Saai die ondertekenaars van die meesterplan uit om na vore te kom en te sê hulle wil nog meer sulke transformasie-uitkomste hê!

Die ANC se uitgangspunt dat transformasie belangriker as dienslewering, doeltreffendheid en goeie sakebeginsels is, het die spoorweë, ESKOM, die SABC, talle munisipaliteite en soveel ander staatsinstellings laat disintegreer. Dieselfde uitgangspunt word nou op die landbou toegepas. Hoewel sommige organisasies in die boerdery-omgewing glo hulle kan die ANC oorreed om landboutransformasie anders te bestuur, is die meeste familieboere baie skepties daaroor, veral omdat dit in sulke wollerige, vae terme in die meesterplan omskryf is.

Meer ontstellend as die blinde strewe na die ANC se ideologie en transformasieparadigma is die plek wat by implikasie aan groot maatskappye toegeken word. Deur “waardekettingvennote uit die private sektor” as agente vir die implementering van die plan uit te sonder, word die gemiddelde plattelandse boerderye weggelaat, uitgesny en vervangbaar gemaak. Soos met die Verenigde Nasies se 2021 voedselsistemeberaad, moet ’n meesterplan vir landbou ’n boergesentreerde plan wees. Geen groot maatskappy in die landbouwaardeketting is onmisbaar nie, maar landbou kan nie sonder boere bestaan nie.

Net enkele groot maatskappye sal uit die meesterplan voordeel trek. Die siellose instellings met gesiglose beleidmakers wat agter direksies, kredietkomitees en kunsmatige intelligensie-besluitnemers skuil met die uitsluitlike doel om winsuitkerings aan hulle onbekende aandeelhouers te verhoog, gaan nog sterker word. Daarteenoor kry die breë basis van regte families wat uit hulle boerderye ’n lewe probeer maak ’n weglaatbare rol.

Dit is nie net Saai wat die plan verwerp nie, maar ook TLU-SA en nog ’n menigte ander landboustrukture, koöperasies, bedryfsorganisasies en plaaslike boereverenigings wat soortgelyke probleme met die meesterplan het. Dié organisasies gaan egter nie net die gebreke van die plan uitlig nie maar ’n meer toepaslike, alternatiewe plan ontwikkel. Anders as die gebrekkige staatsgedrewe plan, sal die alternatief meer deursigtig en inklusief wees. Alle belangstellende landbouverwante organisasies word genooi om mee te doen en alle boere sal ook ’n geleentheid kry om insette te lewer.

Die alternatiewe plan sal deur opposisiepartye buite die invloedsfeer van die ANC by die parlement ingevoer word. Boere en landboustrukture wat nie met die meesterplan tevrede is nie, kan ongeag grootte, ouderdom, ras, omset of politieke affiliasie met Saai skakel by francois@saai.org of met Bennie van Zyl by TLU-SA.

CONTACT US

PLATFORMS

Sign Up

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.