fbpx

Korrupsie in grondhervorming se dae (hopelik) getel, Saai verwelkom nuwe minister se ferm hand

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) het vandag Mzwanele Nyhontso, nuutaangestelde minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, se ferm optrede teen beweerde korrupte amptenare in die Kommissie vir die Herstel van Grondregte (KHG) verwelkom. Dit volg in reaksie op Nyhontso se goedkeuring vir die onmiddellike skorsing van ’n aantal KHG-amptenare wat by beweerde finansiële ongerymdhede betrek word.

Die organisasie voer ook aan dat die minister binne slegs een maand sedert sy aanstelling in sy portefeulje hiermee ’n belowende verbintenis maak tot die uitwissing van korrupsie in die departement en is hoopvol dat hy sonder skroom sal voortgaan hiermee.

Volgens dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, is korrupsie, nepotisme, kaderverryking en bedrog aan die orde van die dag in die Departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling. “Die huidige prosesse en prosedures wat vir die identifisering van begunstigdes van grondhervorming gebruik word, sowel as die wyse waarop die bestuur van transaksies, betalings en ondersteuningsfondse hanteer word, leen dit tot misbruik,” benadruk De Jager. “Boere en ander grondeienaars is egter, danksy die minister se ferm optrede, nou optimisties dat strenger optrede teen en ondersoeke na ongerymdhede in die departement voortaan gedoen sal word en dat reeds afgehandelde transaksies en uitbetalings ook weer ondersoek sal word.”

De Jager beklemtoon dat die verskynsel van korrupsie in hierdie departement jare lank reeds in die kollig is. ’n Verdoemende verslag deur ’n onafhanklike hoëvlakpaneel wat in Maart 2018 onder leiding van oudpresident Kgalema Motlanthe gepubliseer is, het onder meer die ernstige en omvattende korrupsie en wanbestuur in die grondhervormingsproses blootgelê. “Die verslag lê ongelukkig sedertdien op president Cyril Ramaphosa se lessenaar sonder enige nagevolge vir die geïmpliseerde amptenare of politici,” verduidelik De Jager.

Die opspraakwekkende Mala-Mala-transaksie van 2013, waartydens nagenoeg R1 miljard aan grondeisers betaal is vir ’n 13 000 ha-wildsplaas in Limpopo, is tekenend van die ongerymdhede wat al jare lank in die departement toegelaat word. “Ten spyte van die oënskynlike ongerymdhede met dié transaksie is ’n verslag oor hierdie verdagte transaksie, die begunstigdes, kommissies en bevoordeling wat hieruit gespruit het, nooit bekend gemaak nie,” sê De Jager.

Saai het intussen verlede week verskeie kwessies wat boere direk raak tydens ’n vergadering met Nyhontso ter tafel gelê. AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, en Theuns Eloff, fasiliteerder van die Afrikaner Verklaring, het ook dié vergadering bygewoon. Hiertydens het Saai sy ernstige kommer laat blyk oor grondherverdelingsprosesse waar swart boere grond van die staat huur, maar ANC-aangestelde amptenare weier om huurkontrakte te hernu en die betrokke plase eerder aan polities verbonde kaders beskikbaar stel. Die regsaksie wat Saai daaroor namens swart lede teen die minister van stapel gestuur het, is ook bespreek.

“Die grondhervormingsproses het tot dusver grootliks misluk en buiten vir korrupte amptenare het dit vir niemand voordele ingehou nie. Ferm optrede van ’n minister wat geen simpatie of lojaliteit aan die amptenare verskuldig is nie, is die enigste hoop om grondhervorming en die vestiging van ’n nuwe klas winsgewende swart boere op koers te kry,” sluit De Jager af.