fbpx

Konstitusionele Hof se uitspraak nie die einde van die pad vir Zimbabwiese boere

Vandag se uitspraak in die Konstitusionele Hof, waarin bevind is dat die eise van Suid-Afrikaanse slagoffers van Zimbabwe se grondgrype verjaar het, is nie die einde van die pad vir Zimbabwiese boere nie, benadruk Saai en AfriForum. Dié organisasies oorweeg reeds opvolgsake om regverdige en billike vergoeding vir slagoffers te verseker, nie net vir Suid-Afrikaanse burgers nie, maar veral ook vir Zimbabwiërs, swart en wit. Howe in Europa en die VSA het onlangs vergoeding en regskoste teen die regering van Zimbabwe toegeken, wat presedente in internasionale reg skep en Zimbabwiese staatsbates kwesbaar laat vir beslaglegging.

Die uitspraak van vandag is op ’n regstegniese punt gegrond. Die organisasies het hul teleurstelling met die uitspraak beklemtoon.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die Zimbabwiese boere in talle suksesvolle hofsake ondersteun sedert die verdoemende uitspraak van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG)-tribunaal téén die regering van Zimbabwe in 2008. Die familieboerenetwerk Saai is die grootste verteenwoordigende liggaam vir Zimbabwiese boere wat sonder vergoeding onteien is.

Vandag se uitspraak verander of versag geensins die vorige uitspraak wat dieselfde hof op 11 Desember 2018 gelewer het nie. In dié uitspraak is bepaal dat die Suid-Afrikaanse regering onregmatig en irrasioneel opgetree het toe hy met ander staatshoofde van die SAOG saamgesweer het deur deel te neem aan die opskorting van die SAOG-tribunaal. Die opskorting van die tribunaal het die deure van geregtigheid vir meer as 400 miljoen burgers van SAOG-lande gesluit.

President Cyril Ramaphosa het wel vroeër gehoor gegee het aan die Konstitusionele Hof se bevel om Suid-Afrika se handtekening van die ooreenkoms om die tribunaal se aktiwiteite op te skort, te onttrek. Tog laat vandag se uitspraak meer as 700 Suid-Afrikaanse boere groot materiële verliese ly. Vandag se uitspraak bepaal dat slagoffers nie skadevergoeding van die Suid-Afrikaanse regering kan eis wat hulle weens die Suid-Afrikaanse regering se irrasionele en onwettige gedrag gely het nie, want dit het verjaar.

Saai en AfriForum hou egter vol dat die wese van geregtigheid nooit kan verjaar nie en geen onreg ooit finaal is nie.

Dr Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê die boere vind troos in die sekerheid dat alle onteiening sonder vergoeding uiteindelik dieselfde uitkoms het. Maak nie saak waar of wanneer dit gebeur het nie, op die ou end het geregtigheid geseëvier. “Net soos die restitusieprogram in Suid-Afrika vandag mense vergoed wat onder apartheid op wettige wyse (hoewel onregverdig) van grond ontneem is, sal die dag aanbreek wanneer die regering verantwoordelik gehou sal word vir sy flaters. Anders as apartheidgedrewe onteiening, het die Konstitusionele Hof reeds hard teen die regering geoordeel en onuitwisbare skande aan die regime toegeken terwyl dit nog aan bewind is,” sê De Jager.

“Dit was vir AfriForum ’n voorreg om hierdie regstryd om eiendomsreg, wat oor ’n dekade en ’n half gestrek het, moontlik te maak. Artikel 14 van die Afrika-handves oor Mense- en Volkeregte stel dit duidelik dat die reg op eiendom gewaarborg sal word. Artikel 21 van die handves bepaal dat mense nie van hul welvaart ontneem sal word nie en dat in geval van spoliasie die onteiende mense die reg sal hê op die wettige terugkryging van hul eiendom en op voldoende vergoeding. Ons regspan sal die uitspraak bestudeer en ons sal ’n pad vorentoe bepaal om die stryd vir eiendomsreg, soos verskans in die handves, voort te sit om ’n voorspoedige en vrye toekoms vir die kinders van alle gemeenskappe in Suider-Afrika te verseker,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

Intussen neem druk ook toe in beide die internasionale arena en in die SAOG-streek vir die herstel van die SAOG-tribunaal in Windhoek.

Met die onttrekking van beide die onderskrywings van Suid-Afrika en Tanzanië deur bevele van hul hoogste howe, is daar nou ’n minderheidsteun vir die opskorting van die tribunaal. Die burgerlike samelewing was nog nooit vantevore meer en oor nasionale grense heen gemobiliseer op ’n gedeelde agenda as met die huidige beweging om die SAOG te kry om die tribunaal te herstel as waghond vir basiese menseregte, veral eiendomsreg, en die oppergesag van die reg, nie.