fbpx

Herverdelingsplase wat minister Thoko Didiza aan begunstigdes oorhandig

Die 100 titelaktes van herverdelingsplase wat minister Thoko Didiza aan begunstigdes oorhandig het, sou ’n belangrike stap in die regte rigting gewees het as dit nie so opsigtelik as ’n politieke slenter kort voor die verkiesing misbruik is nie.

Dit skree ook teen die grein van haar departement se growwe vergrype in areas soos die Karoo-, Transkei- en Gert Sibanda-distrik waar begunstigdes wat suksesvol boer, deur polities gekonnekteerde kaders vervang word sonder dat lewensvatbare alternatiewe gronde aan hulle beskikbaar gestel word.

Saai voer sedert 2020 al ’n verbete stryd om die departement te dwing om meer deursigtig, regverdig en eerlik in die toekenning en kansellasie van huurkontrakte te werk te gaan. Ten spyte van die minister se besoek aan die probleemgebiede, gesprekke oor die oorsaak en oorsprong van die probleem, en haar beloftes om dit aan te spreek, gaan plaaslike grondsake-amptenare onverpoosd aan met die korrupte en nepostistiese toekenning van herverdelingsgronde, asof die minister se ondernemings geen implikasies het nie.

Die 100 titelaktes wat met die oog op die verkiesing oorgedra word, verteenwoordig nie ’n fraksie van die verwagting wat die minister in Desember al deur haar beloftes aan begunstigdes geskep het nie. Duisende huurders wat sedert 2007 al op staatsgronde boer, het ondernemings van die minister gekry dat die ANC nie langer sal toelaat dat hulle vir altyd as bywoners op die departement se plase aansukkel nie, maar dat hulle vroeg in 2024 eienaarskap van hulle plase sou kry.

Titelaktes op plase is die kragtigste welvaartskepper in landbou, en lê aan die basis van voedselsekerheid, beleggersvertroue en die landboufinansieringstelsel wat ons in suidelike Afrika ken. Die ANC se gesloer oor die afgelope 30 jaar om titelaktes aan begunstigdes van grondhervorming te gee, het ’n hele geslag swart boere tot armoede en staatsafhanklikheid gedoem. Dit is een van die vernaamste oorsake dat Suid-Afrika nie daarin geslaag het om ’n klas van winsgewende swart boere onder begunstigdes van grondhervorming te vestig nie.

Saai is gereed om ná die verkiesing die druk op die minister te intensifiseer om meer titelaktes vinniger oor te dra.