fbpx

Gesamentlike landbouontwikkelingsprojek begin derde plantsiklus ná suksesvolle tweede oes

AfriForum, Saai en Thabake Business Enterprise se gesamentlike landbouontwikkelingsprojek het vandeesweek begin met voorbereiding vir die derde plantsiklus van die groenteprojek, waartydens beet, blomkool en rooikool aangeplant sal word. Dit volg nadat ’n tweede suksesvolle oes teen einde Januarie afgehandel is – 4 191 kg murgpampoen 728 kg rooikool en 740 kg kool is aan Nutripick gelewer tydens hierdie tweede plantsiklus. Verder is 770 blomkoolkoppe ook aan ander kliënte gelewer.

“Een van die moeilikste dinge om te doen is om ná ’n oes wat nie aan verwagtings voldoen het nie, aan te gaan. Dit is maklik om handdoek in te gooi as jou produk wat op die vloer is en leë landerye wat wag om weer bewerk te word al is wat jy het. Ek is geseënd met al die ondersteuning wat ek het en die rolspelers wat betrokke is, asook die brandstof wat dit vir my moontlik maak om my landbouonderneming te ontwikkel en te laat groei tot ’n winsgewende en volhoubare onderneming. Dít sal my nalatenskap aan my kinders en my span wees. Die kwaliteit van my produkte verbeter met elke oes en dit gee vir my hoop,” sê Lebo Mosime, uitvoerende hoof van Thabake Business Enterprise.

“Dit is bemoedigend om te sien hoe ons gesamentlike landbouontwikkelingsprojekte, wat daarop fokus om kleinboere in die diep landelike en buitestedelike gebiede te moderniseer, meganiseer en kommersialiseer besig is om vrugte af te werp. Een van ons belangrikste fokusareas is bestuursontwikkeling wat fokus op die verbetering van prosesse, administrasie en boekhouding. Bestuursontwikkeling help om winsgewendheid en volhoubaarheid meer akkuraat te bepaal sodat areas van verbetering ook makliker vasgestel kan word. Ons is deurlopend besig met ’n proses om herlewingslandboupraktyke stelselmatig in werking te stel met die doel om winsgewendheid te verbeter en omgewingsimpak te verlaag,” sê Leon Lourens, ontwikkelingskoördineerder by Saai.

“Samewerking op interkulturele projekte bied aan kultuurgemeenskappe die geleentheid om mekaar te leer ken en blywende vertroue en verhoudings, gegrond op wedersydse erkenning en respek, te bou. Dit is vir AfriForum ’n voorreg om deel te wees van ’n groeiende netwerk van kultuurgemeenskappe wat mekaar op voetsoolvlak ondersteun,” sê Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

Die volgende fase van die projek behels die uitbreiding van die songedrewe drupbesproeiingstelsel om die skaal van die projek te vergroot wat op sy beurt sal bydra tot die volhoubaarheid en winsgewendheid daarvan.

Mosime het in 2022 na AfriForum uitgereik nadat sy besluit het om die kleinskaalse groenteboerdery wat sy in haar agterplaas op 2 000 m2 bedryf het, uit te brei. Hoewel sy suksesvol produkte aan die mark gelewer het, was die skaal te klein om ekonomies lewensvatbaar te wees. AfriForum en Saai het Thabake Business Enterprise bygestaan om 0.75 ha van die hoewe van 21 ha in die Phokeng-omgewing wat Thabake Business Enterprise van Royal Bafokeng Enterprise huur, onder songedrewe drupbesproeiing te plaas. Die eerste oes blomkool en brokkoli van dié projek is in Oktober 2023 afgehandel.