fbpx

Dringende ingryping nodig om Potchefstroom Landboukollege van ineenstorting te red

Saai is geskok en ontsteld oor die haglike toestand van die Potchefstroom Landboukollege (Pampoenboere) se kampus en plaas en het ’n regspan geraadpleeg oor moontlike optrede om die kollege van ineenstorting te red.

Studente kla dat die instandhouding van die geboue en terrein so ver agter geraak het dat dit ’n onveilige omgewing skep. Van die eens trotse, tradisieryke instelling wat beide topboere en landboutegniese adviseurs opgelei het, is daar geen spoor nie.

Foto’s en verslae van diere wat vermaer is vanweë swak en verkeerde voeding, haglike krale, weiding waar rommel gestort word en dierewelsynspraktyke wat die Dierebeskermingsvereniging na hulle asem sal laat snak, staaf die studente se klagtes.

Saai is veral bekommerd oor die invloed van verwaarloosde fasiliteite op die gehalte van tersiêre landbou-opleiding.

“Dit sou al rampspoedig gewees het as die kampus leeg gestaan het, maar hier word nog studente opgelei,” sê Francois Rossouw, Uitvoerende Hoof van Saai. “Ons wil weet hoe dit gebeur het en iemand moet aanspreeklik gehou word.”

Volgens dr Theo de Jager, uitvoerende voorsitter van Saai, verwag Suider-Afrika van sy tersiêre landbou-opleidingsinstellings om jong boere aan die spits van internasionale kompeterendheid te hou. “Daar is mense wat glo dat die foto’s van vervalle infrastruktuur en vermaerde beeste aangedik is omdat dit so buitengewoon sterk kontrasteer met die uitnemende kollege wat duisende boere en landbousakelui as hulle alma mater onthou, maar ’n foto kan nie lieg nie,” sê hy.

Die vee op die kampus is nie in so ’n swak kondisie weens ’n tekort aan voer nie. Daar is store vol goeie produkte, aanvullings en gespesialiseerde mengsels; dit word net nie vir die diere gegee nie of die verkeerde voer word gegee.

Saai het reeds ’n prokureur opdrag gegee om die verantwoordelike en aanspreeklike amptenare op te spoor en waar nodig die howe te nader om inligting te bekom, regstelling te verseker en aanspreeklikheid af te dwing.

*Foto’s deur Annelise Lange