fbpx

Dit is finansieringsprodukte wat Landbank sink

Landbank verkondig dat dit nie sy ontwikkelingskliënte is wat vanweë wanbetaling hom in die moeilikheid laat beland het nie, maar dat hy al teen meer as ’n kwart van sy kommersiële boerekliente regsaksie moes neem om sy skuld te vorder. Die boere kry al die blaam vir die gemors waaruit Landbank nie sonder ’n substantiewe reddingsboei van die staatskas kan kom nie. Maar soos die meeste van sy voorleggings aan georganiseerde landbou, is hierdie stelling ’n verbuiging van die waarheid.

Landbank het nog nooit bekend gemaak wat die presterende persentasie van sy ontwikkelingsboek is nie. Hy tree nie teen wanpresteerders op daardie boek op nie, want ’n groeiende ontwikkelingsboek is ’n voorwaarde van verdere reddingsboeie waarsonder die bank se voortbestaan in gedrang is. Nou gee hy net sy kommersiele boere die skuld. Wanneer meer as 26% van al jou kliënte se leêrs by jou regsafdeling lê, moet enige bank sekerlik ook die fout by homself gaan soek.

Toe Landbank twee jaar gelede onverwags sy boek by tussengangers soos die landboubesighede weggeneem het, was dit ’n gesonde boek. Oninvorderbare skuld by sy grootste kontrakteur was minder as 1%. Niemand het die beëindiging van die tussengangerstelsel sien kom nie, so niemand was daarvoor voorbereid nie – veral nie Landbank nie. Dit het die landboubesighede wat as tussengangers opgetree het, in ’n krisis gedompel, dit het die boere in tamatiestraat gelos en dit het Landbank se ineenstorting tot gevolg gehad.

Tussengangerbesighede het dit nie sien kom nie, want hulle weet presies wat dit vat om daardie boek suksesvol te bestuur – hulle doen dit al vir dekades en is daarvoor gestruktureer en ingerig. Hulle het ook geweet Landbank is nie, en dat Landbank onmoontlik nie oornag die kapasiteit en stelsels kan skep om sy eie boek te bestuur nie. Hulle het geweet dat Landbank sonder die kundigheid, stelsels, teenwoordige voetspoor in die markplek en vaardighede eenvoudig in duie sou stort, maar Landbank self het dit nie geweet nie. Toe gebeur dit.

Landbank is ’n staatsonderneming, vasgevang in alle ideologiese en politieke reëlings wat al die ander staatsondernemings soos Eskom, Denel en die SABC, en die meeste staatsfunksies soos verdediging, openbare gesondheid, skole en polisiëring laat faal het. Mense word aangestel vir partypolitieke gedienstigheid en nie omdat hulle ervare of uitnemende landboubankiers is nie.

Toe Landbank sy reëling met die koöperasies en landbou-insetverskaffers opgeskort het, het daardie tussengangers die Landbankboek baie doeltreffend bestuur. Hulle ken elke boer, weet waar en waarmee hy boer, kom op sy plaas en voorsien sy saad, kunsmis, spuitstowwe, diesel en dieremedisyne. Landbank het geen benul daarvan nie, en het nie eers geweet waarheen of hoe om state te stuur nie. Dit is nou nog ’n reuse uitdaging om korrekte en tydige state uit Landbank te kry.

Die tussengangerbesighede het daardie finansiering meestal as wentelkrediet aan boere verskaf. Boere het hulle koöperasierekeninge soos ’n oortrokke fasiliteit gebruik; as hulle geld inkry het hulle dit gemaklik by die insetverskaffer inbetaal en weer daarteen kunsmis, diesel of dierevoer getrek tot op ’n gekontrakteerde  limiet. Dié reëling is jaarliks hernu. Tot die dag wat Landbank onverwags besluit het om self sy boek te bestuur.

Maar Landbank het nie die mense, kapasiteit, ervaring, kundigheid of stelsels in plek gesit om sy eie boek te bestuur nie. Landbank kon allermins nie sy lenings aan boere as wentelkrediet administreer nie, en het summier daarop aangedring dat elke boer sy fasiliteit as ’n produksielening volledig moet vereffen en dan vir ’n nuwe lening moes aansoek doen. Om by Landbank ’n lening goedgekeur te kry vat maande – as jy gelukkig is. Landbank se kriteria sluit in elk geval die meeste boere uit, selfs as Landbank die geld gehad het om uit te leen.

Dit is maklik om begrip vir die boere se verskeie reaksies te hê:

  • Ek kry nie state uit Landbank nie en as ek dit kry is dit verkeerd bereken.
  • Ek kry net dreigemente, prokureursbriewe of dagvaardigings.
  • Ek sien en ervaar hoe alle funksionaliteit by Landbank kwyn.
  • Ek verstaan en beleef van ander boere se ervaring dat daar nie ’n kans is dat my lening betyds vir die volgende seisoen hernu gaan word nie, indien enigsins.
  • As ek my Landbankpaaiement betaal is dit die einde van my kontantvloei en kan ek nie verder boer nie.

So die meeste boere gebruik eerder sy paaiement om verder mee te boer.

Landbank likwideer hulle voor die voet op die mees brutale manier denkbaar, met amptenare en laksman-agente wat vloek, verneder, beledig en boedels verwoes tot daar van baie letterlik niks oorbly nie. Moenie daaroor kla, jou storie by die kerk of boerevereniging deel of op sosiale media vertel nie, want selfs siek oumense word daarvoor gearresteer en summier in ’n polisiesel toegesluit.

Dit is waarom boere nou teen Landbank terugbaklei.