fbpx

AfriForum en Saai ondersteun buitestedelike boerdery-onderneming om doeltreffendheid te verbeter

AfriForum en Saai het hande gevat met Gung’s Boerdry om produktiwiteit en doeltreffendheid van hierdie buitestedelike boerdery-onderneming te verbeter deur ’n skoffelploeg aan dié boerdery-onderneming te skenk. Gung’s Boerdry produseer brandrissies, brinjal, ander groen groente en medisinale kruie op ’n 2,5 ha plot by Zuurbekom in die Wes-Rand. Hierdie gediversifiseerde landbou-onderneming behels ook agro-verwerking, produseer achaar en gepreserveerde vrugte, en sluit ook ’n hoender- en eendbroeiery in.

“My pa was ’n boer en dit is vir my ’n voorreg om as ’n organiese boer in sy voetspore te volg noudat ek afgetree is. Gung’s Boerdry het twee permanente en een deeltydse werknemer en ons moet tans alle grondvoorbereiding met die hand doen. Ons is baie opgewonde oor die vooruitsigte van verhoogde doeltreffendheid en produktiwiteit wat moontlik is noudat ons hierdie masjien het. Ons sien daarna uit om meer te leer oor meganisasie en herlewingslandboupraktyke,” sê Cynthia Sekgobela, stigter van Gung’s Boerdry.

“Familieboere soos Cynthia is die kern van Saai. Sy boer nie net winsgewend op ’n klein stukkie grond in die stad nie, sy hef haar gemeenskap op, doen opleiding en het ’n begrip van volhoubare landboumetodes. Dit is vir Saai ’n voorreg om by te dra tot so ’n suksesverhaal,” sê Iné Bester, operasionele bestuurder by Saai.

“Gemeenskapselfstandigheid en goeie interkulturele verhoudings is belangrik om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir die kinders van alle gemeenskappe in suider Afrika te verseker. Ons is dankbaar vir hierdie geleentheid om gemeenskapslede te help wat hulself wil help en ’n voorbeeld stel deur by te dra tot die ekonomie, werkskepping en opleiding,” sê Nantes Kelder, nasionale koördineerder van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

Gung’s Boerdry verskaf 400 kg vars groente per week en 375 kg gepreserveerde groente per maand aan die Johannesburgse varsproduktemark, smouse, staatsinstellings, plaaslike besighede en die informele mark. Die onderneming bedryf ook ’n geakkrediteerde Landbou-akademie wat opleiding in Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, Noordwes en die Vrystaat aan nie-winsgewende organisasies verskaf. Sekgobela is ook lid van Izindaba Zokudla-boerderygroep by UJ Sowetokampus en die boerderystudiegroep in Zuurbekom, sy is ook ’n afgetrede rekenmeester en belastingspesialis.

“Saai is betrokke by hierdie gesamentlike landbou-ontwikkelingsprojekte om kleinboerderye te moderniseer, te meganiseer en te kommersialiseer. Ons poog om die diep landelike, kommunale en buitestedelike gebiede te bemagtig deur die landskapbenadering tot landbou-ontwikkeling te volg. Ons sien uit na die vrugte wat hierdie gesamentlike poging gaan dra,” sê Leon Lourens, Ontwikkelingskoördineerder by Saai.