fbpx

Saai dien klag oor vernietigde vuurwapens by Parlementêre Portefeuljekomitee in

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) het vandag ʼn klag by die Parlementêre Portefeuljekomitee vir Polisie ingedien nadat onvolledige en kommerwekkende inligting rondom vernietigde vuurwapens aan Saai voorsien is. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is op 11 Maart deur die Hooggeregshof verplig om volledige inligting oor die vernietiging van meer as 50 000 vuurwapens bekend te maak, maar Saai meen dat die inligting wat ontvang is nie die antwoorde op kritiese vrae verskaf nie. Die rekords van die SAPD, wat 16 806 vernietigde vuurwapens en -parte uitsonder wat nie aan die Geïntegreerde Ballistiese Identifikasiestelsel (IBIS) -toets onderwerp is nie, is onvolledig en strook nie met ander inligtingsbronne in Saai se besit nie. Nadat verdere vrae aan die polisie gerig is en geen antwoord daarop ontvang is nie, versoek Saai nou antwoorde vanaf die portefeuljekomitee oor die proses, beleide en regulasies wat geld wanneer vuurwapens vernietig word.

Hierdie stap vloei voort uit die uitgerekte litigasie wat reeds in 2022 begin is toe Saai antwoorde vir boere gesoek het oor 24 901 vuurwapens wat vernietig is en ʼn paar maande later weer vrae oor nóg 26 002 vernietigde vuurwapens moes stel. Die hofbevel van 11 Maart het dus beteken dat antwoorde oor meer as 50 000 vuurwapens aan Saai verskaf moes word.

Die SAPD het op 12 April twee Excel-dokumente aan Saai gestuur. Op 15 April het Saai se regspan in ʼn skrywe aan die polisie uitgelig dat die afsending van hierdie twee dokumente nie aan die hofbevel voldoen nie. Op 24 April het die SAPD toe PDF-dokumente gestuur wat inligting van die onderskeie provinsies bevat. Die feit dat die provinsiale inligting nie op die oorspronklike Excel-dokumente vertoon nie, is uiters kommerwekkend. Volgens Saai se regspan blyk dit of die Excel-dokumente slegs die nasionale inligting oor vernietigde vuurwapens bevat. Op 30 Mei het hierdie regspan nog ʼn skrywe aan die polisie gerig om te vra vir die inligting wat ontbreek, insluitend ʼn vernietigingsertifikaat en Staatskoerant-kennisgewing van die vernietigde vuurwapens en -parte. Die skrywe het onbeantwoord gebly en Saai moes probeer vasstel wat die kriptiese en onsamehangende inligting van die Excel-dokumente beteken.

Die Excel-dokumente is verwarrend en wek verdere kommer dat daar nie effektiewe rekordhouding is van wapens wat vernietig word nie. “Word die wapens werklik vernietig of beland dit in misdadigers se hande? Kan die wapens wat wel vernietig word nie dalk bewysstukke in misdade wees nie? Hoe geloofwaardig is ʼn dokument waarop enigiemand iets kan insleutel?” Dít is sommige van die vrae wat Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, nou daar stel.

Daar is verskeie gevalle waar talle vuurwapens met presies dieselfde reeksnommers in die Excel-dokument gelys word. Een Excel-inskrywing dui byvoorbeeld aan dat altesaam 149 “Gecado Air Rifles” vernietig is, almal met dieselfde reeksnommer (“0”), maar later ingesleutel word as 9 mm-pistole, wat deur Lorcin Engineering vervaardig is. Daar is ook gevalle waar ’n vuurwapen in Januarie 2022 vervaardig is en slegs twee maande later vernietig is. Hoewel die laasgenoemde geval wel moontlik is, is dit uiters onwaarskynlik.

“Die SAPD moet konkrete bewyse verskaf dat vernietigde vuurwapens onderwerp was aan die IBIS toets én inderdaad vernietig is en nie bloot ʼn niksseggende Excel-dokument verskaf nie. Saai sal aanhou druk vir duidelikheid oor die proses van vernietigde vuurwapens, aangesien daar reeds te veel voorvalle is, wat kommer wek oor die polisie se vermoë om wapens verantwoordelik te bestuur. Net mooi ʼn week gelede het die minister van Polisie onthul dat meer as 29 000 rondtes ammunisie in ʼn tydperk van ses maande verlore geraak het,” sluit Rossouw af.